SPREUKE 26 - Nuwe Lewende Vertaling

1Eer pas net so min

by ’n dwaas

soos sneeu in die somer

en reën in oestyd.

2Ongeregverdigde vervloeking

is soos dartelende voëltjies

en ’n swaeltjie wat wegvlieg.

Daar sal niks van kom nie.

3Stuur ’n perd met ’n sweep,

’n donkie met ’n toom

en ’n dwaas met ’n lat vir sy rug.

4Moenie ’n dwaas antwoord

volgens sy dwaasheid nie

anders word jy net soos hy.

5Antwoord ’n dwaas

volgens sy dwaasheid

sodat hy nie homself

as wys beskou nie.

6Om ’n boodskap

saam met ’n dwaas te stuur,

is net so goed

as om jou voet af te kap

of om gif te drink.

7’n Spreuk uit ’n dwaas se mond

is net so onbruikbaar

soos die bene

van ’n verlamde persoon.

8Om ’n dwaas te vereer,

is soos om ’n klip

in ’n slingervel vas te bind.

9’n Spreuk uit ’n dwaas se mond

is soos ’n doring

in ’n dronk mens se hand.

10Iemand wat ’n dwaas

of ’n verbyganger

van die straat af huur,

is soos iemand

wat sommer blindelings

’n pyl afskiet.

11’n Dwaas wat sy foute herhaal,

is soos ’n hond wat terugkom

na sy eie braaksel toe.

12Daar is meer hoop vir ’n dwaas

as vir iemand

wat dink hy is baie slim.

13’n Luiaard se verskoning is:

“Daar is ’n leeu op straat,

’n leeu is tussen die huise!”

14’n Luiaard draai om en om

op sy bed,

soos ’n deur heen en weer swaai

op sy skarnier.

15’n Luiaard

steek sy hand in die skottel,

maar sy hand is te moeg

om dit weer terug te bring

na sy mond.

16Die luiaard dink hy weet meer

as sewe ander mense

wat goeie antwoorde kan gee.

17Om sommer in die verbygaan

in te meng

in ander mense se rusie

is soos om ’n kwaai hond

sommer aan sy ore te gryp.

18Soos ’n kranksinnige wat

dodelike wapens afvuur,

19so is iemand wat ander bedrieg

en sê:

“Ek het net ’n grappie gemaak.”

20Soos ’n vuur uitbrand

as jy nie hout opgooi nie,

so hou ’n rusie op

as daar nie skinderpraatjies is nie.

21’n Bakleierige mens

veroorsaak rusies,

net soos gloeiende kole

’n vuur laat opvlam

en soos droë hout

’n vuur laat vlam vat.

22Na skinderstories

luister mense graag,

maar dit word maklik

deel van jou lewe.

23Glasuur oor ’n potskerf,

so is vleiende woorde

wat uit ’n bose hart kom.

24Iemand wat in sy hart haat

en bedrog koester,

steek dit weg agter sy woorde.

25Wanneer so iemand

mooi dinge sê,

moet jy dit glad nie glo nie.

Hy is vol bose bedoelings.

26Al steek hy sy haat

vernuftig weg,

sy kwaad sal in die gemeenskap

duidelik word vir almal.

27Iemand wat ’n vanggat

vir ’n ander mens grawe,

val self daarin.

Die klippe wat hy

in ’n ander se pad rol,

sal na hom toe terugkom.

28Iemand wat leuens vertel,

haat dié wat hy benadeel.

’n Persoon wat ander vlei,

veroorsaak ellende.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help