MALEAGI 1 - Nuwe Lewende Vertaling

1Die Here het vir Maleagi ’n boodskap gegee om aan Israel oor te dra.

Die Here

se liefde vir Israel

2Die Here sê: “Ek het julle lief.”

Julle reaksie was: “Hoe het U ons liefgehad?”

Hierop het die Here geantwoord: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob liefgehad,

3maar Esau verwerp. Ek het sy heuwelagtige grondgebied verlate gemaak en sy erfdeel verander in ’n woestyn, bestem vir jakkalse.”

4Toe het Esau se afstammelinge, die mense van Edom hierop gereageer en gesê: “Ons is platgeslaan, maar ons sal die bouvalle weer opbou.”

Die Here, die Almagtige, het so daarop geantwoord: “Hulle kan maar probeer om herstelwerk te doen. Ek sal dit net weer vernietig! Hulle land sal bekend staan as ‘Die Land van Boosheid’ en die volk as ‘Die volk vir wie die Here vir altyd kwaad sal wees’.

5As julle die vernietiging met julle eie oë sien, sal julle sê: ‘Die grootheid van die Here strek baie verder as ons landsgrense!’”

Nuttelose offers

6Vir die priesters sê die Here, die Almagtige:

“’n Seun eer sy pa

en ’n slaaf sy meester.

Ek is julle Vader en julle Meester,

maar waar is die eer en respek

wat My toekom?

Julle het My geminag!

Maar julle vra:

‘Op watter wyse

het ons U geminag?’

7Julle bring vir My offers

van voedsel wat besoedeld is.

Dan vra julle:

‘Hoe het ons u offer onrein

gemaak?’

Julle het dit gedoen deur te sê

die Here se altaar

kan maar geminag word.”

8Die Here, die Almagtige, sê:

“Is dit nie verkeerd

as julle blinde diere bring

om te offer nie?

Is dit nie ook verkeerd

om lam en siek diere

te offer nie?

Bring ’n bietjie sulke geskenke

vir julle goewerneur

en kyk of hy daarmee tevrede sal wees

en julle vriendelik sal ontvang!

9Roep God aan en smeek Hom

om julle genadig te wees!

Maar as dit die soort offers is

wat julle bring,

hoekom sal Ek

julle goedgesind wees?”

vra die Here, die Almagtige.

10“Ek wens iemand van julle wil die tempeldeure toesluit sodat julle nie meer nuttelose offers kan bring nie! Ek is glad nie tevrede met julle nie. Ek stel nie in julle offers belang nie,” sê die Here, die Almagtige.

11“Daar is nasies wat My eer van waar die son opkom tot waar dit weer ondergaan. Oral eer hulle My deur wierookoffers en rein offers te bring. Die nasies het groot ontsag vir my Naam,” sê die Here, die Almagtige.

12“Julle bewys nie respek deur dit wat julle doen nie. Met die veragtelike offers wat julle bring, sê julle eintlik dat julle die altaar van die Here minag.

13Julle sê: ‘Dit is moeilik om Hom te dien’ en dan trek julle ook nog julle neuse daarvoor op,” sê die Here, die Almagtige!

“Julle bring gesteelde, lam en siek diere en bied dit as offers aan! Moet Ek nou tevrede wees met dit wat julle bring?” vra die Here.

14“Daar rus ’n vloek op die bedrieërs wat beloof om ’n ram uit hulle kudde te gee, maar dan ’n verminkte dier aan die Here offer.” Die Here, die Almagtige, sê: “Is Ek nie ’n groot Koning nie? Selfs die nasies het groot ontsag vir My!”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help