1“Ek wou die voorspoed van my volk herstel. Ek wou Israel genees, maar sy sonde en die oortreding van Samaria kom aan die lig. Hulle lieg vir mekaar, diewe breek in en bendes roof op straat.
2Hulle besef nie dat Ek bewus is van al hulle bose dade nie. Nou het hulle dade hulle ingehaal en Ek sien dit alles!
3“Hulle maak die koning bly met al hulle boosheid en die leiers met hulle leuens.
4Hulle is almal egbrekers, soos ’n gloeiende oond wat aanhou smeul nadat die bakker opgehou het om dit te stook. Hy doen dit sodat hy die deeg kan knie, en wag dan dat dit moet rys.
5“Tydens die fees van die koning het hulle die leiers dronk gemaak met wyn. Die koning kuier saam met spotters.
6Hulle kom nader terwyl hulle harte smeul soos ’n oond. Dwarsdeur die nag smeul hulle sameswering en in die oggend vlam dit op.
7Hulle was almal soos ’n oond wat brand en maak hulle regeerders dood. Al hulle konings het tot ’n val gekom, die een na die ander. Tog is daar nie een van hulle wat na My roep vir hulp nie.
8“Israel vermeng met die nasies en word net soos hulle. Efraim is soos ’n roosterkoek wat nie omgedraai is nie en halfgebak en waardeloos geword het!
9Vreemdes het sy kragte getap, maar hy kom dit nie eens agter nie. Hy het oud en swak geword, maar hy besef dit nie.
10Israel se verwaandheid getuig teen hom; tog draai hy nie om, terug na die Here sy God toe nie. Hy probeer nie eens om Hom te soek nie.
11“Die mense van Israel het geword soos ’n dwase, onnosele duif. Hulle roep nou vir Egipte, netnou vlieg hulle na Assirië toe.
12Wanneer hulle daarheen vlieg, sal Ek my vangnet oor hulle gooi en hulle neertrek soos voëls in die lug. Ek sal hulle straf wanneer hulle in swerms bymekaarkom.
13“Hoe tragies is dit vir hulle wat van My af wegvlug! Hulle sal omkom, want hulle het teen My in opstand gekom. Ek wou hulle bevry, maar hulle het vir My leuens vertel.
14Hulle roep nie na My met ’n opregte hart nie. In plaas daarvan lê hulle op hulle beddens en kerm. Hulle sny hulleself stukkend voor hulle afgode as hulle bid vir gesaaides en wingerde. Hulle het teen My gerebelleer.
15“Ek het hulle opgelei en hulle arms sterk gemaak. Tog beplan hulle bose dinge teen My.
16Hulle soek hulp, maar nie by die Allerhoogste nie. Hulle is soos ’n slap boog. Hulle leiers sal deur die swaard doodgemaak word weens hulle astrante woorde teenoor My. Dan sal Egipte vir hulle lag.”
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.