JOB 14 - Nuwe Lewende Vertaling

Hoe kort is die lewe!

1“Hoe broos is die mens!

Hoe kort is sy lewe!

Hoe vol moeite!

2Soos ’n blom

bloei dit vir ’n oomblik

en verwelk.

Soos die skadu

van ’n drywende wolk,

so verdwyn dit.

3Moet U so ’n brose wese

in die oog hou

en verantwoording van my eis?

4Wie kan reinheid skep

in iemand

wat onrein gebore is?

Niemand nie!

5U het besluit oor die lengte

van ons lewe.

U bepaal hoeveel maande

ons sal leef,

en nie ’n minuut langer nie.

6Gee ons tog net ’n bietjie rus.

Kyk tog weg van ons,

want ons is soos gehuurdes

wat ’n taak moet afhandel.

7“Selfs ’n boom het hoop.

As dit afgekap is,

sal dit weer groei

en nuwe takke uitspruit.

8Al was sy wortels al oud op die grond

en die stam dood in die stof,

9met die geur van water

kan dit weer bloei

en lote laat uitspruit

soos ’n jong boom.

10Maar wanneer mense sterf,

verloor hulle alle krag.

Hulle blaas hulle asem uit,

en waar is hulle dan?

11Soos water verdamp

uit ’n meer,

en ’n rivier verdwyn

in droogte,

12so gaan lê die mens

wanneer hy sterf

en kom nie weer regop nie.

Tot die hemele ophou bestaan,

sal hulle nie weer

wakker word

of uit hulle slaap

gewek word nie.

13“Ek wens U wou my wegsteek

in ’n graf

en van my vergeet

totdat u woede verby is.

Maar merk my op u kalender

om my weer te onthou!

14Wanneer sterflikes sterf,

kan hulle weer lewe?

Dié gedagte sal my hoop gee,

en deur my worsteling

sal ek gretig wag

op die vrylating.

15U sal roep

en ek sal antwoord.

U sal verlang na my,

u handewerk.

16Dan sal U my voetstappe tel,

in plaas daarvan om te kyk

vir my sondes.

17My sondes sal verseël wees

in ’n sak

en U sal my oortredings bedek.

18Maar soos berge tuimel

en verkrummel,

en ’n rots van sy plek val,

19soos water rotse verweer

en ’n vloed grond wegspoel,

so vernietig U mense se hoop.

20U oorweldig hulle altyd,

en hulle verdwyn

van die toneel.

U verander hulle voorkoms

en stuur hulle weg.

21Hulle weet nooit

of hulle seuns

grootword in eer

of wegsink in nietigheid nie.

22Hulle word verteer

deur hulle eie pyn

en treur oor hulleself.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help