PSALMS 37 - Nuwe Lewende Vertaling

Die Here red die regverdiges

1’n Dawidspsalm.

Moenie jou vererg

oor boosdoeners nie.

Moenie die kwaaddoeners

beny nie.

2Want soos gras verlep hulle gou.

Soos plante

verdroog hulle vinnig.

3Vertrou op die Here

en doen wat goed is.

Woon in die land

en geniet veiligheid.

4Wees bly in die Here,

en Hy sal jou hartsbegeertes

aan jou gee.

5Vertrou jou lewe toe

aan die Here.

Vertrou Hom,

en Hy sal vir jou sorg.

6Hy sal jou onskuld

laat deurbreek

soos die lig,

en die regverdigheid van jou saak

soos die middagson.

7Wees stil in die Here,

en wag geduldig op Hom.

Moenie die mens beny

wat op sý manier floreer,

of jou verknies

oor sy bose planne nie.

8Moenie kwaad word nie;

laat staan liewer jou woede.

Moenie ander beny nie;

dit lei net tot jou nadeel.

9Want die bose mense

sal vernietig word,

maar dié

wat op die Here vertrou,

sal die land besit.

10Binnekort sal die boosdoeners

nie meer daar wees nie;

al soek jy na hulle,

sal jy hulle nie kry nie.

11Maar sagmoediges

sal die land besit,

hulle sal oorvloedige vrede

geniet.

12Die goddelose sweer saam

teen die regverdiges

en kners op die tande vir hulle.

13Maar die Here lag vir hom,

want Hy sien

sy dag van oordeel

kom al nader.

14Die goddelose trek die swaard

en span die boog

om die armes en behoeftiges

tot ’n val te bring,

om hulle wat reg doen,

dood te maak.

15Maar hulle swaard

sal hulle eie hart deurboor

en hulle boog

sal stukkend

gebreek word.

16Dit is beter om vroom te wees

en min te besit

as om boos te wees

en baie besittings te hê.

17Want die mag van die bose

sal verpletter word,

maar die Here

sal die regverdiges beskerm.

18Die Here ken die lewensdae

van die opregtes,

en hulle erfdeel

sal vir altyd bly bestaan.

19In slegte tye

sal hulle nie verleë wees nie;

selfs in hongersnood

sal hulle genoeg hê.

20Maar die goddelose

sal vergaan.

Die vyande van die Here

sal wees soos mooi weivelde

wat soos rook verdwyn.

21Die goddelose leen

en betaal nie terug nie,

maar die regverdige gee vrygewig.

22Hulle vir wie die Here seën,

sal die land besit,

maar hulle wat Hy vervloek,

sal uitgeroei word.

23Die Here bepaal

die rigting van ’n mens

met wie se lewe Hy tevrede is.

24Al sou so een struikel,

hy sal nie val nie,

want die Here hou sy hand vas.

25Ek was jonk, en nou is ek oud.

Maar ’n regverdige mens

wat verlate is,

het ek nooit gesien nie,

of dat sy kinders vir kos

moes bedel nie.

26Hy leen altyd ruimskoots

aan ander,

en sy kinders is tot ’n seën.

27Vermy die kwaad

en doen wat goed is,

dan sal jy vir altyd woon

in die land.

28Want die Here het die reg lief,

en sal sy getroue dienaars

nie verlaat nie.

Hy sal hulle vir altyd

veilig bewaar,

maar die goddelose se kinders

sal vergaan.

29Die regverdiges

sal die land besit

en daar vir altyd woon.

30Die regverdige het wyse raad;

wat hy sê, is regverdig.

31Die gebooie van sy God

is in sy hart.

Hy sal nie ’n voet

verkeerd sit nie.

32Die goddelose

wag die regverdige in,

en wag vir die kans

om hom dood te maak.

33Maar die Here verhoed

dat hy in hulle mag val

sodat hulle hom

skuldig kan bevind

wanneer hy voor die gereg kom.

34Vertrou die Here

en volg sy voorskrifte.

Hy sal jou ophef

sodat jy die land sal besit

en die goddelose se uitwissing sal sien.

35Ekself het dit sien gebeur:

Hoogmoedige en bose mense

floreer soos welige bome.

36Maar toe ek weer kyk, was hulle weg!

Hoewel ek hulle gesoek het,

kon ek hulle nie kry nie!

37Maar kyk na hulle

wat eerlik en opreg is,

want die toekoms van so ’n mens

is vol vrede.

38Maar oortreders

word saam vernietig;

hulle toekoms

sal tot ’n einde kom.

39Die Here red die regverdiges;

Hy is ’n toevlug

in moeilike tye.

40Die Here help hulle,

en red hulle

van goddelose mense.

Hy red hulle,

want hulle skuil by Hom.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help