PSALMS 52 - Nuwe Lewende Vertaling

Ek vertrou op God se goedheid

1Vir die koorleier: ’n Gedig van Dawid,

2met verwysing na die keer toe Doëg die Edomiet gekom het en vir Saul vertel het: Dawid is in die huis van Agimelek.

3Hoekom spog jy

met jou boosheid,

man van mag?

God se troue liefde

is mos sonder einde!

4Jy beplan verwoesting.

Jou tong is skerp

soos ’n skeermes;

jy is ’n bewerker van bedrog.

5Jy verkies boosheid

bo goedheid

en leuens bo die waarheid.

Sela

6Jy geniet woorde wat vernietig,

en met jou tong bedrieg jy!

7Maar God sal jou

vir altyd neergooi.

Hy sal jou gryp,

jou uit jou woning wegsleep

en jou ruk uit die land

van die lewendes.

Sela

8Die regverdiges sal dit sien

en met eerbied vervul word.

Hulle sal lag en sê:

9“Kyk wat gebeur met die man

wat nie by God

geskuil het nie:

Hy het eerder

op sy rykdom vertrou,

en deur verwoesting

sterk geword.”

10Maar ek is soos ’n olyfboom

wat geil groei

in die huis van God.

Ek vertrou op God se goedheid

so lank as wat ek lewe.

11Ek sal U altyd loof, o God,

vir wat U gedoen het.

Ek sal op u Naam hoop,

want hulle wat aan U getrou is,

weet dat U goed is.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help