PSALMS 39 - Nuwe Lewende Vertaling

Die Here

is my enigste hoop

1Vir die koorleier: Op die wysie van “Jedutun”. ’n Dawidspsalm.

2Ek het gesê:

“Ek sal bedag wees

op wat ek doen

en nie sondig met wat ek sê nie.

Ek sal versigtig wees

om nie te praat

in die teenwoordigheid

van die goddelose nie.”

3Maar toe ek daar in stilte

bly staan

en nie oor goeie dinge

kon praat nie,

het my ontsteltenis

groter geword.

4Dit het in my begin kook.

Terwyl ek nagedink het,

het ek kwaad geword,

en toe het ek begin praat:

5“Here, sê my tog

wanneer is my einde.

Wat is die getal

van my lewensdae?

Laat my besef

hoe lank my lewe

nog sal wees!

6Kyk, U het my lewe

’n blote handbreedte lank gemaak.

My lewensduur

is byna niks in u oë nie.

Al is hy hoe selfversekerd,

die mens is verganklik.”

Sela

7Die mens

is net ’n bewegende skaduwee.

Al sy gejaagdheid is tevergeefs:

Hy versamel rykdom,

maar weet nie wie

dit gaan gebruik nie.

8Here, waarop kan ek dan hoop?

U is my enigste hoop.

9Red my van my oortredings.

Moenie dat ek die spot

van dwase mense word nie.

10Ek swyg voor U.

Ek sal nie ’n woord sê nie,

want U het dit gedoen.

11Neem tog u beproewing

weg van my!

Ek is uitgeput

weens die las wat U op my lê.

12As U ’n mens straf

oor sy sondes,

verteer U dit wat hy begeer

soos ’n mot.

Daar is geen twyfel nie:

Elke mens is waarlik

verganklik.

Sela

13Luister tog na my gebed,

Here!

Luister na my geroep om hulp!

Moenie my trane miskyk nie.

Want ek is soos ’n vreemdeling

by U,

’n bywoner soos my voorouers.

14Spaar my lewe

sodat ek weer kan glimlag

voordat ek doodgaan

en nie meer bestaan nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help