KOLOSSENSE 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Hoe om die nuwe lewe wat Christus gee, te leef

1Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

2Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie.

3Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek.

4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn.

5Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak.

6Dit is oor sulke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref.

7Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl.

8Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie.

9Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek

10en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk.

11In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is.

12Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.

13Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.

14Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam.

15Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar.

16Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met alle wysheid moet julle mekaar onderrig en mekaar die regte pad wys. Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God.

17Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – in die Naam van die Here Jesus. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring.

Hoe Christenskap verhoudings bepaal

18Vroue, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat met Christus één is.

19Mans, julle moet julle vroue liefhê en julle moenie griewe teenoor hulle opbou nie.

20Kinders, julle moet in elke opsig aan julle ouers gehoorsaam wees, want dan is die Here tevrede.

21Ouers, moenie aanhou foutvind met julle kinders sodat hulle moed verloor nie.

22Slawe, julle moet julle eienaars hier op aarde in elke opsig gehoorsaam. Julle moenie mense probeer tevrede stel deur net te werk as iemand kyk nie. Nee, werk met opregtheid van hart omdat julle eerbied vir die Here het.

23Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie.

24Weet dat die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus!

25Wie onreg doen, kry hulle onreg terug. God trek niemand voor nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help