PSALMS 79 - Nuwe Lewende Vertaling

Sal U dan vir altyd kwaad wees?

1’n Asafpsalm.

O God,

heidense nasies het gekom,

en u eie erfdeel binnegeval.

Hulle het u heilige tempel

verontreinig

en Jerusalem

’n puinhoop gemaak.

2Hulle het die lyke

van u dienaars

vir die voëls gegee om te vreet,

die vleis van u getroues

was kos vir wilde diere.

3Hulle bloed het soos water

rondom Jerusalem gevloei,

en daar was niemand

om hulle te begrawe nie.

4Ons is ’n bespotting

vir ons bure,

verag en gespot

deur almal om ons.

5Hoe lank nog, o Here?

Sal U vir altyd

kwaad wees?

Sal u jaloesie

brand soos vuur?

6Stort u toorn uit

oor die nasies

wat weier om U te erken

en oor koninkryke

wat u Naam nie aanroep nie.

7Want hulle

het Jakob verslind,

en sy woonplek verwoes.

8Moenie die sondes

van ons voorouers

teen ons hou nie.

Ontferm U gou oor ons,

want ons

is baie mismoedig.

9God van ons verlossing,

help ons,

red ons tog

ter wille van die eer

van u Naam,

en vergewe ons sondes

ter wille van u Naam.

10Hoekom sou die nasies spot

en vra:

“Waar is hulle God?”

Laat ons sien

hoe U die nasies

vergeld

weens die bloedvergieting

wat hulle

oor u dienaars gebring het.

11Luister na die versugting

van hulle

wat gevange geneem is.

Gebruik u groot krag

en red hulle

wat die dood

in die gesig moet staar.

12Vergeld ons bure sewe maal,

Here,

oor die veragting

wat hulle teen U

geslinger het.

13Dan sal ons, u volk,

die skape van u weiding,

U vir altyd dank,

en U prys

van geslag tot geslag.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help