AMOS 6 - Nuwe Lewende Vertaling

1Teëspoed

wag op julle wat dink

julle is sorgvry en veilig

in Jerusalem en Samaria.

Julle word beskou

as vooraanstaande

en belangrike mense van Israel.

Die mense van die volk

kom na julle vir hulp.

2Gaan na Kalne

en kyk wat het daar gebeur.

Gaan van daar

na die groot stad Hamat

en nog verder af

na Gat van die Filistyne.

Julle is tog nie beter

as hierdie stede nie.

Julle grondgebied

is nie groter as hulle s’n nie.

3Julle wil nie glo

dat die dag van teëspoed

naby is nie.

Maar julle optrede bring self

die tyd van geweld nader.

4Julle lê ontspanne

op julle ivoorversierde

beddens en rusbanke.

Julle eet die sagte vleis

van uitgesoekte lammers

en kalwers.

5Julle sing liedjies

saam met die harp.

Soos Dawid ontwerp julle

musiekinstrumente.

6Julle drink bekers vol wyn

en smeer uitsoekolies aan.

Maar oor die ondergang

van Israel

ontstel julle julle nie.

7Julle sal die eerstes wees

om in ballingskap te gaan.

Verby is die tyd

vir uitspattige feesvierings.

8Die oppermagtige Here

het ’n eed geneem

en dit is wat die Here God,

die Almagtige,

gesê het:

“Ek verag Israel se trots

en haat hulle spoghuise.

Ek sal die stad met alles daarin

aan hulle vyande oorgee.

9“As tien mense oorbly

in een huis,

sal hulle almal sterf.

10As ’n familielid kom

om die lyke te verbrand,

die huis binnegaan

om die lyke weg te vat,

en vra of daar enige oorlewendes is:

‘Is daar nog iemand

saam met jou?’

en die persoon antwoord:

‘Nee!’

Dan sal die familielid sê:

‘Bly stil!

Moenie eers

die Here se Naam

fluister nie.

Hy kan jou dalk hoor!’

11As die Here die opdrag gee,

sal van die grootste

tot die kleinste huise

tot stukke en brokke

afgebreek word.

12“Perde kan tog nie

oor rotse galop nie!

’n Mens gebruik mos nie osse

om rotse om te ploeg nie!

Tog het julle

wat reg is

in iets giftigs verander,

en wat regverdig is

in iets wat bitter is.

13Julle spog oor Lo-Dabar

en sê:

‘Het ons nie Karnajim

op eie krag ingeneem nie?’”

14Die Here God,

die Almagtige, sê:

“O volk van Israel,

Ek sal ’n vyandige volk

oor julle laat heers.

Hulle sal julle onderdruk

vanaf Lebo-Hamat

in die noorde

tot by die Arabaspruit

in die suide.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help