JEREMIA 20 - Nuwe Lewende Vertaling

Jeremia en Pasgur

1Pasgur, die seun van Immer, was die priester in beheer by die tempel van die Here. Hy het die boodskap gehoor wat Jeremia geprofeteer het.

2Pasgur het Jeremia gearresteer en hom laat slaan en in ’n voetblok vasgemaak by die boonste Benjaminingang van die tempel.

3Die volgende dag het Pasgur Jeremia vrygelaat. Toe het Jeremia vir hom gesê: “Pasgur, die Here het jou naam verander. Hy noem jou nou: ‘Verskrikking rondom,’

4want dit is wat die Here sê: Ek sal sorg dat jy en jou vriende verskrik is van vrees. Jou vyand sal jou vriende voor jou oë met die swaard doodmaak. Ek gee die hele bevolking van Juda oor in die hande van die koning van Babel. Hy sal die mense in ballingskap wegvoer na Babel of met die swaard doodmaak.

5Ek sal toelaat dat jou vyande hierdie stad kaalstroop. Hulle sal al die rykdom in die stad – die kosbare juwele van goud en silwer van jou konings – na Babel toe neem.

6Pasgur, hulle sal jou en ook jou familie as gevangenes na Babel toe wegvoer. Daar sal jy doodgaan en sal hulle jou begrawe. Dieselfde sal ook gebeur met al jou vriende vir wie jy geprofeteer het dat alles reg sal wees.”

Jeremia se klagte

7 Here, U het my omgepraat

en ek het my laat ompraat.

U is baie sterker as ek,

U het my oorweldig.

Nou bespot hulle my heeldag,

almal lag vir my.

8As ek praat,

moet ek elke keer net uitroep:

“Geweld en vernietiging!”

Die boodskap wat die Here

vir my gegee het,

veroorsaak dat almal my

aanhoudend spot.

9Ek het al gesê

ek sal niks van die Here sê

of namens Hom praat nie.

Maar dan is dit soos ’n vuur

wat in my hart brand!

Ek is moeg daarvan

om weerstand te bied;

trouens, ek kan nie meer nie.

10Ek hoor hoe hulle spot:

“Oral is groot gevaar!”

Dan sê hulle:

“As jy iets sê,

gaan ons dit rapporteer!”

Selfs my ou vriende

hou my dop.

Hulle sit en wag vir my

om ’n fout te maak.

Hulle sê:

“Miskien kan hy verlei word,

dan sal ons ons kans kry

om ons op hom te wreek.”

11Maar die Here is by my,

soos ’n sterk soldaat.

My vervolgers sal ondergaan!

Hulle sal my nie oorwin nie.

Hulle sal rooi in die gesig staan

omdat

hulle niks reggekry het nie.

Niemand sal hulle vernedering

ooit vergeet nie.

12 Here, Almagtige,

U weet wie tree reg op.

U sien presies wat aangaan

in mense se harte

en gedagtes.

Ek wil graag sien

hoe U U op hulle wreek.

Ek het my saak

in u hande gelaat.

13Daarom sing ek

tot eer van die Here!

Prys die Here!

Want Hy red arm,

behoeftige mense soos ek

van kwaaddoeners.

14Ek verwens die dag

wat ek gebore is!

Mag niemand my geboortedag

ooit as gelukkig beskou nie.

15Ek verwens die dag

toe iemand vir my pa

die nuus gebring het:

“Geluk, jy het ’n seun!”

16Mag dié man wees

soos die dorpe

wat die Here

sonder genade vernietig het.

Mag hy in die oggend

weeklag hoor,

en in die middag

oorlogsgeskreeu

17omdat hy my nie

voor my geboorte

doodgemaak het nie.

Ag, kon my ma se liggaam

vir ewig my graf gewees het!

18Hoekom is ek ooit gebore

om al die swaarkry en pyn

te sien?

Moet ek my lewe lank

vernedering ervaar?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help