JESAJA 35 - Nuwe Lewende Vertaling

Hoop op herstel

1Die droë woestyn

sal bly wees.

Die dor plekke

sal vol blomme wees.

2Ja, daar sal ’n oorvloed wees

van blomme,

en ’n gejuig en gesing!

Die woestyne

sal groen word

soos die Libanonberge,

so mooi soos die weivelde

van Karmelberg

en die vlaktes van Saron.

Daar sal die Here

sy heerlikheid ten toon stel,

en die grootsheid

van ons God.

3Versterk dié

wat moeg geword het.

Bemoedig dié

wat wil neerslaan.

4Sê vir dié wat bang is:

“Wees sterk

en moenie bang wees nie.

Want julle God kom

om wraak te neem,

om julle vyande te straf

en om julle te red!”

5Wanneer Hy kom,

laat Hy blindes sien

en dowes hoor.

6Lam mense sal rondspring

soos bokke,

en mense wat nie kon praat nie,

sal van vreugde sing!

Fonteine sal in die wildernis

ontspring

en strome water

sal die woestyn natlei.

7Die droë grond

sal ’n poel water word,

die dorstige land

borrelende fonteine.

Waar daar eers net blyplek was

vir woestynjakkalse,

sal daar nou

gras, riet en bossies groei.

8Deur die woestyn

sal nou ’n grootpad loop.

Die pad sal genoem word:

die Heilige Weg.

Mense wie se harte boos is,

sal nie daarop reis nie.

Dit sal net oop wees vir mense

wat op God se pad loop.

Dwase sal nie

daar kom nie.

9Langs die pad

sal leeus nie skuil nie.

Daar sal geen roofdiere

wees nie.

Net mense vir wie God gered het,

sal op die pad loop.

10Dié wat die Here vrygekoop het,

sal terugkeer na Jerusalem.

Hulle sal sing

van blydskap,

hulle sal vol vreugde wees,

en ellende en smart

sal verdwyn.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help