JEREMIA 46 - Nuwe Lewende Vertaling

Boodskappe vir die nasies

1Die Here het vir die profeet Jeremia boodskappe oor die nasies gegee.

Boodskappe oor Egipte

2Hy het die boodskap oor Egipte ontvang in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Dit gaan oor die Egiptiese koning, farao Neko, en sy leër. Koning Nebukadnesar van Babel het hom en sy leër by Karkemis langs die Eufraatrivier verslaan:

3“Kry julle wapens gereed,

ruk op vir die geveg!

4Saal die perde op,

bestyg hulle, ruiters!

Neem julle posisies in,

sit julle helms op.

Maak julle spiese blink,

trek julle wapenrusting aan!

5Maar wat sien Ek?

Die Egiptiese leër is verskrik,

hulle het teruggedraai.

Hulle beste vegters is verslaan

en kies die hasepad

sonder om eers terug te kyk.

Hulle word van alle kante

bedreig,

sê die Here.

6Selfs nie die vinnigstes

kan wegkom nie.

Die sterkste soldate

kan nie ontsnap nie.

Aan die noordekant,

by die walle

van die Eufraatrivier,

struikel hulle en val.

7“Wie is dit wat sy walle

oorstroom

soos die water van die Nyl,

soos riviere bruisende water?

8Dit is die Egiptiese leër.

Hy spog dat hy sy walle oorstroom,

soos die water van die Nyl,

soos riviere bruisende waters.

Hulle sê:

‘Ons sal optrek

en die aarde bedek.

Ons sal stede en hulle inwoners

saam verwoes.’

9Laat die perde optrek

en die strydwaens opruk!

Laat die vegters uittrek,

die mense uit Etiopië en Libië,

vaardig met skilde,

en die mense uit Lidia,

bedrewe met die boog.

10Hierdie is

die Dag van

die oppermagtige Here,

die Almagtige.

Dit is ’n dag van vergelding,

om jou te wreek

op jou vyande.

Die swaard sal doodmaak

totdat dit genoeg het,

versadig is van julle bloed!

Dit is ’n offer vir

die oppermagtige Here,

die Almagtige,

in die noordelike gebied,

langs die Eufraatrivier.

11“Egipte, jy is soos ’n jong meisie.

Gaan na Gilead en kry salf!

Dit is eintlik tevergeefs,

want daar is geen medisyne

wat jou kan genees nie.

12Die nasies het gehoor

van jou skande.

Jou uitroepe vul die aarde.

Soldate val oor mekaar,

hulle slaan saam neer.”

13Die Here het weer vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee. Dit gaan oor koning Nebukadnesar se planne om Egipte aan te val.

14“Kondig dit aan in Egipte!

Maak dit bekend in Migdol.

Maak dit bekend in Memfis

en Tagpanges!

Sê: Maak julle reg,

wees voorbereid,

want die geweld van oorlog

sal almal om julle tref.

15Waarom het jou soldate gevlug?

Hulle kan nie staan

voor die Here wat hulle

weggedryf het nie.

16Hulle struikel

en val oor mekaar en sê:

‘Kom ons gaan terug

na ons eie mense en

na waar ons gebore is.

Laat ons wegkom

van die swaard

van die vyand!’

17Hulle sal sê:

‘Farao, die koning van Egipte,

het ’n groot mond

wat ’n kans deur sy vingers

laat glip het!’”

18Die Koning wie se Naam

die Here, die Almagtige, is, sê:

“So waar as wat Ek lewe,

iemand sal kom

wat soos Tabor tussen die berge

of soos Karmel bo die see is.”

19Pak julle goed vir ballingskap,

inwoners van Egipte!

Memfis sal vernietig lê,

’n bouval sonder inwoners.

20“Egipte is soos ’n mooi jong

verskalf.

Maar ’n steekvlieg is op pad

uit die noorde.

21Egipte se huursoldate

is soos vetgemaakte kalwers.

Hulle bied nie weerstand

teen die vyand nie,

hulle draai om en hardloop weg.

Die dag van straf

het aangebreek.

22Egipte seil saggies weg

soos ’n slang wegseil,

want die vyand marsjeer

met mag en mening.

Hulle kom soos houtkappers

met byle teen haar.”

23Die Here sê:

“Hulle sal haar bos afkap,

al lyk dit ondeurdringbaar.

Want hulle is meer as sprinkane,

ontelbaar!

24Hulle sal die mense van Egipte

verneder

en oorlewer in die mag

van die mense uit die noorde.”

25Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Ek sal Amon, die god van Tebes, straf, asook vir die farao en Egipte en al die ander gode. Ek gaan ook haar konings straf, ja, vir die farao en almal wat op hom vertrou.

26Ek sal hulle oorgee in die mag van dié wat hulle baie graag wil doodmaak, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy offisiere. As dit verby is, sal mense weer soos vantevore in Egipte kom woon.” Die Here sê dit sal gebeur!

27“Maar my dienskneg Jakob,

moenie bang wees nie,

moenie mismoedig wees nie,

Israel.

Al is julle ver weg,

sal Ek julle red.

Ek sal jou nageslag

uit ballingskap

terugbring.

Israel sal terugkom

en rus en vrede hê.

Niemand sal hulle bangmaak nie.”

28Die Here sê:

“Moenie bang wees nie,

my dienskneg Israel.

Ek sal altyd by julle wees.

Ek sal die nasies waarheen

Ek julle verdryf het,

heeltemal vernietig.

Maar vir julle

sal Ek nie vernietig nie!

Ek sal julle egter nie ongestraf laat nie.

Ek moet julle dissiplineer,

maar op regverdige wyse.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help