PSALMS 118 - Nuwe Lewende Vertaling

Sy goedheid duur vir altyd

1Loof die Here, want Hy is goed!

Sy goedheid duur vir altyd.

2Laat Israel sê:

“Sy goedheid duur vir altyd.”

3Laat die huis van Aäron sê:

“Sy goedheid duur vir altyd.”

4Laat almal wat die Here dien, sê:

“Sy goedheid duur vir altyd.”

5In my nood

het ek tot die Here gebid.

Die Here het my geantwoord

en my bevry.

6Die Here is by my,

ek sal nie bang wees nie.

Wat kan ’n mens aan my doen?

7Die Here is by my,

Hy help my.

Ek sal neersien op my haters.

8Dit is beter

om by die Here te skuil

as om staat te maak op mense.

9Dit is beter

om by die Here te skuil

as om op vername mense

te vertrou.

10Al die nasies het my omsingel;

in die Naam van die Here

het ek hulle afgeweer.

11Hulle het my inderdaad

van alle kante omsingel,

maar in die Naam van die Here

het ek hulle afgeweer.

12Soos bye

het hulle om my geswerm,

maar soos brandende

doringtakke

is hulle geblus.

In die Naam van die Here

het ek hulle afgeweer.

13Hulle het probeer

om my heeltemal om te stoot,

maar die Here het my gehelp.

14Die Here is my sterkte

en my beskerming;

Hy het my redder geword.

15Vreugdeliedere van redding

word gesing

in die tente van die regverdiges.

Die Here se regterhand

het roemryke dinge gedoen.

16Die Here se regterhand

is triomfantlik omhoog.

Die Here se regterhand

het roemryke dinge gedoen.

17Ek sal nie sterf nie,

maar lewe,

en van die Here se werke vertel.

18Die Here

het my swaar gestraf,

maar nie aan die dood

oorgegee nie.

19Maak oop vir my

die poorte van regverdigheid,

dan sal ek ingaan

en die Here loof.

20Dit is die poort na die Here;

die regverdiges gaan hier in.

21Ek prys U omdat U my verhoor het

en my redder geword het.

22Die klip

wat die bouers afgekeur het,

het nou die sluitsteen geword.

23Dit is die werk van die Here,

en wonderlik vir ons

om te aanskou.

24Dit is die dag

wat die Here gemaak het.

Laat ons daaroor juig

en bly wees.

25 Here, red ons tog,

Here, gee ons tog voorspoed.

26Geseënd is die een

wat kom

in die Naam van die Here.

Ons seën julle

uit die tempel van die Here.

27Die Here is God,

Hy laat sy lig oor ons skyn.

Begin die optog, wuif die takke!

Stapel dit op

tot by die horings van die altaar.

28U is my God, en ek wil U prys!

My God,

ek sal U hemelhoog prys!

29Wees dankbaar teenoor die Here,

want Hy is goed!

Sy goedheid duur vir altyd!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help