PSALMS 77 - Nuwe Lewende Vertaling

Het die Here

my verwerp?

1Vir die koorleier: Op die wysie van “Jedutun”. ’n Asafpsalm.

2Ek roep hardop tot God.

Ek roep hardop tot God

om na my te luister!

3In my nood soek ek die Here.

Ook in die nag

strek ek onvermoeid

my hande uit in gebed.

Tog het ek geen troos gekry nie.

4Ek dink aan God, en ek sug,

ek peins daaroor

en is moedeloos.

Sela

5U verhinder dat ek slaap;

van ontsteltenis

kan ek nie praat nie!

6Ek dink aan die dae van vroeër,

aan jare van lank gelede,

7toe ek gesing het in die nag,

nagedink het oor sake.

Dan vra ek my af

in my binneste:

8Het die Here

my vir altyd verwerp?

Sal Hy ooit weer

sy genade bewys?

9Het sy troue liefde

vir altyd verdwyn?

Het sy beloftes

tot ’n einde gekom?

10Het God sy medelye

vergeet?

Het Hy in toorn

sy simpatie onttrek?

Sela

11Ek het gesê:

“Dit is my droefheid:

dat die Allerhoogste nie optree

soos Hy voorheen

gedoen het nie.”

12 Here, ek onthou

wat U gedoen het,

ja, ek onthou

u wonderlike dade van destyds.

13U dade bly in my gedagtes.

Al u werke

wil ek bepeins.

14O God, u weë is heilig.

Is daar enige god

so magtig soos U?

15U is die God

wat wonders doen!

U het u mag

aan die nasies getoon.

16Deur u mag

het U u volk gered,

die nageslag

van Jakob en Josef.

Sela

17Toe die waters U sien, o God,

toe hulle U sien,

het hulle gebewe,

selfs die diepsee het gesidder.

18Die wolke het reën neergestort,

die donderslae het gerammel,

u weerligpyle het oral geblits.

19U donder het gebulder

in die storm;

weerligstrale het die wêreld verlig!

Die aarde het gebewe en geskud.

20U pad loop deur die see,

u weg

was deur magtige waters,

maar u spoor

kon niemand sien nie.

21Soos ’n kudde

het U u volk gelei;

Moses en Aäron

was hulle herders.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help