HOSEA 4 - Nuwe Lewende Vertaling

Die Here

se regsaak teen Israel

1Volk van Israel, luister na die woord van die Here! Die Here het ’n regsaak teen die inwoners van die land. Hy sê: “Daar is geen getrouheid, goedheid of ’n intieme verhouding met God in julle land nie.

2Julle vloek en lieg, maak dood en steel, en pleeg egbreuk. Oral is daar geweld en bloedvergieting.

3Dis waarom die hele land verskrompel en kwyn van dors saam met al die inwoners, wilde diere en voëls. Selfs die visse beswyk.

4“Moenie julle vinger na iemand anders toe wys nie. Moenie die skuld op iemand anders pak nie! Die klag wat Ek lê, is teen jóú, o priester!

5Daarom sal jy helder oordag struikel, en die profeet saam met jou in die nag. Boonop sal Ek jou ma vernietig, o Israel.

6My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie. Omdat jyself dié kennis verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die voorskrifte van jou God vergeet het, sal Ek jou kinders vergeet.

7Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal hulle aansien in skande verander.

8“Die priesters verryk hulleself wanneer die mense hulle sonde-offers na hulle toe bring. Daarom is die priesters bly wanneer die mense sondig!

9Soos dit met die priesters gaan, so sal dit ook met die mense gaan: omdat die priesters sondig, sondig die mense ook. Daarom sal Ek sowel priesters as mense vergeld vir hulle bose dade.

10Hulle sal eet, maar nog honger bly. Hulle sal egbreuk pleeg, maar geen kinders hê nie omdat hulle die Here verlaat het om ander gode te dien.

11“Prostitusie, wyn en drank het my volk se denkvermoë verdof.

12Hulle vra ’n stuk hout om raad! Hulle dink ’n stok kan hulle adviseer! ’n Gees van losbandigheid, ’n hunkering na die afgode het hulle dwaas gemaak. Hulle het soos prostitute opgetree deur ander gode te dien.

13Hulle bring offers aan die afgode op die bergtoppe. Hulle bring wierookoffers op die heuwels en offer in die koel skadu van eike, populiere en ander groen bome.

“Dis waarom julle dogters prostitute geword het, en julle skoondogters egbreuk pleeg.

14Sal Ek nie julle dogters straf omdat hulle prostitute is en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie? Sekerlik sal Ek dit doen, want julle mans doen dieselfde deur met tempelprostitute te sondig. O dwase mense! So bewerk mense sonder verstand hulle eie ondergang.

15“As Israel soos ’n prostituut is, mag Juda nie ook skuldig word nie! O Juda, moenie die heiligdomme by Gilgal en Bet-Awen besoek om daar te aanbid nie. Moenie daar in die Naam van die Here ’n eed neem nie.

16Israel is so hardnekkig soos ’n koppige koei. Moet die Here hulle dan onbeskermd laat wei soos ’n lam in die veld?

17Efraim se hart lê by die afgode. Laat hom met rus!

18Wanneer die manne van Israel klaar gedrink het, gaan soek hulle prostitute. Hulle passie vir skande is groter as dié vir eer.

19Daarom sal ’n rukwind hulle wegwaai. Hulle sal in die skande kom oor hulle offers.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help