JESAJA 2 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Visioen van die toekoms

1Hier is nog ’n visioen wat Jesaja seun van Amos gesien het oor Juda en Jerusalem:

2In die laaste dae

sal die berg

van die tempel van die Here

die belangrikste plek

op aarde word.

Nasies sal daarheen stroom.

3Baie volke sal kom en sê:

“Kom, laat ons

na die berg van die Here gaan,

na die tempel

van die God van Israel.

Daar sal Hy ons sy weë leer

sodat ons aan Hom

gehoorsaam kan wees.”

Want uit Sion

kom die instruksies,

en die woord van die Here

uit Jerusalem.

4Die Here sal regspreek

tussen nasies

en dispute tussen hulle oplos.

Hulle sal ploegskare maak

van hulle swaarde

en snoeiskêre van hulle spiese.

Tussen nasies sal daar

geen oorloë meer wees nie,

en militêre opleiding

sal nie bestaan nie.

5Kom, mense van Israel,

laat ons lewe in die lig

wat van die Here af kom!

Waarskuwing van oordeel

6 Here, U het die volk van Israel

verwerp,

want hulle is beïnvloed

deur die mense van die ooste.

Hulle het hulle fortuin laat vertel

soos die Filistyne,

en bondgenootskappe gesluit

met heidene.

7Israel is ryk aan silwer en goud,

daar is geen einde aan hulle skatte nie,

en so ook nie

aan hulle perde

en strydwaens nie.

8Maar die land is vol afgode.

Die mense buig neer

en aanbid hierdie dinge

wat hulle self gemaak het.

9Daarom sal elkeen

verneder word

en laag moet buig.

Moet hulle tog nie vergewe nie!

10Gaan skuil in grotte,

kruip weg in die grond

weens die verskrikking

van die Here

en die glans van sy majesteit!

11Die dag kom

dat jou hoogmoedigheid en trots

jou op die grond sal laat val

en die Here alleen

verhoog sal word.

12Op daardie dag

sal die Here, die Almagtige,

die hoogmoediges straf,

en hulle in die stof neergooi.

13Op die Libanonberg

sal Hy elke hoë seder afkap

en elke groot boom van Basan.

14Elke hoë berg en heuwel

sal Hy gelyk maak.

15Elke hoë toring en versterkte muur

sal Hy afbreek.

16Hy sal die groot handelskepe

en al die klein bote

in die hawe vernietig.

17Die hoogmoed van alle mense

sal platgevee word.

Hulle trotsheid sal in die stof lê.

Die Here alleen

sal dan verhoog word.

18Afgode sal heeltemal verdwyn.

19Wanneer die Here opstaan

om die aarde te skud,

sal sy vyande wegkruip

in gate en grotte in die grond,

so bang sal hulle

vir Hom wees.

Hulle sal inkruip in grotte

in die rotse

uit vrees vir die verskrikking

van die Here

en die eer van sy grootsheid.

20Hulle sal

hulle silwer en goue afgode

vir die molle en vlermuise los.

21Hulle sal in gate inkruip

en tussen rotse

en teen die kranse wegkruip.

So sal hulle probeer ontsnap

aan die verskrikking

van die Here

en die eer van sy grootsheid

as Hy opstaan

om die aarde te skud.

22Hou op om julle vertroue

op feilbare mense te stel!

Die mens het maar net

asem in sy neus!

Hoe kan hy enigiemand help?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help