PSALMS 137 - Nuwe Lewende Vertaling

By die riviere van Babel

1By die riviere van Babel

het ons gesit en gehuil

wanneer ons aan Sion dink.

2Ons het ons liere

daar aan die wilgerbome

opgehang.

3Dié wat ons weggevoer het,

het ons gevra

om ’n lied te sing.

Ons verdrukkers het gesê

ons moet

’n vreugdelied sing:

“Sing vir ons ’n Sionslied!”

4Maar hoe kan ons

in ’n vreemde land

’n lied van die Here sing?

5As ek jou vergeet,

Jerusalem,

laat my regterhand

dan uitdroog.

6As ek nie meer aan jou dink nie,

as Jerusalem

nie my grootste vreugde is nie,

mag my tong kleef

aan my verhemelte.

7Onthou tog die Edomiete,

Here,

en wat hulle gedoen het

toe Jerusalem ingeneem is.

Hulle het geskreeu:

“Slaan plat! Slaan plat

tot op die fondamente!”

8Babel, jy is gedoem

tot verwoesting.

Geseënd is die een wat jou

vergeld

vir wat jy aan ons gedoen het.

9Geseënd is hý

wat jou babatjies neem

en hulle teen ’n klip

verpletter!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help