PSALMS 22 - Nuwe Lewende Vertaling

Vertrou op God in nood

1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”.

2My God, my God!

Waarom het U my verlaat?

Waarom bly U so ver

wanneer ek roep om hulp,

so ver wanneer ek tot U sug?

3Elke dag roep ek na U, my God,

maar U antwoord nie;

ook elke nag roep ek,

maar daar is geen rus vir my nie.

4Tog is U die Heilige

wat woon waar Israel U prys.

5Ons voorouers

het op U vertrou,

hulle het U vertrou,

en U het hulle gered.

6Tot U het hulle geroep,

en hulle is verlos.

Hulle het op U vertrou,

en was nooit verleë nie.

7Maar ek is net ’n wurm,

en nie ’n man nie;

ek word bespot

deur die mensdom,

verag deur almal om my.

8Elkeen wat my sien,

spot met my.

Hulle trek vir my gesigte,

skud die kop en sê:

9“Vertrou op die Here;

laat Hý hom dan red!

Laat die Here hom verlos

as Hy hom dan so liefhet!”

10Maar U het my die lewenslig

laat sien,

my as suigeling

op U laat vertrou.

11Vanaf geboorte

is ek van U afhanklik.

Vanaf die begin van my lewe

was U my God.

12Moenie ver van my af bly nie,

want ellende kom

en daar is geen helper nie.

13Soos ’n trop bulle

omsingel my vyande my;

wilde beeste van Basan

het my omring!

14Soos brullende leeus

wat uitmekaar wil skeur,

met oopgesperde bekke

storm hulle op my af.

15My lewe is uitgestort

soos water, al my bene val uitmekaar.

My hart is soos was

wat in my wegsmelt.

16My krag het opgedroog

soos ’n potskerf.

My tong kleef

aan my verhemelte.

U laat my vir dood in die stof lê.

17Soos ’n trop honde

sirkel hulle om my;

’n kwaadwillige bende

sak op my toe.

My hande en voete

is vasgemaak.

18Ek kan al my bene in my tel.

Met leedvermaak gluur my vyande

my aan.

19Hulle verdeel my klere

onder mekaar

en deur die lot te werp

deel hulle my kledingstukke.

20 Here,

bly nie ver van my af nie!

U is my sterkte;

help my tog gou!

21Red my van die swaard,

red my kosbare lewe

uit die mag van hierdie honde.

22Red my uit die bek

van die leeu,

van die horings

van wilde beeste.

U het my gebed verhoor!

23Aan my broers

maak ek u Naam bekend.

In die vergadering

verkondig ek u lof.

24Prys die Here,

julle almal wat Hom dien!

Verheerlik Hom,

nakomelinge van Jakob!

Betoon eerbied aan Hom,

nageslag van Israel!

25Want die leed

van hulle in nood

ignoreer Hy nie;

vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie.

Hy luister na hulle geroep

om hulp.

26Van U af kom my lofsang

in die groot vergadering;

voor hulle wat U dien,

sal ek my geloftes nakom.

27Dié in nood

sal eet en versadig word.

Almal wat die Here dien,

sal Hom loof.

Mag hulle harte bly wees

vir altyd.

28Die hele aarde

sal die Here erken

en na Hom toe terugkeer.

Mense uit elke nasie

sal Hom weer dien.

29Want die koningskap

behoort aan die Here!

Hy heers oor al die nasies.

30Laat die rykes van die wêreld

feesvier

en Hom aanbid.

Laat al wat sterfling is,

voor Hom buig;

hulle wat sterflik is

en bestem is vir die graf.

31Die nageslag sal Hom dien.

Die komende geslagte

sal van die Here hoor.

32Sy regverdige dade

sal aan hulle vertel word.

Dié wat nou nog ongebore is,

sal van sy dade hoor.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help