KLAAGLIEDERE 5 - Nuwe Lewende Vertaling

Is dit dan vir altyd?

1 Here, hou ’n bietjie in gedagte

wat met ons gebeur het.

Kyk hoe ons verneder is.

2Die grond wat ons geërf het,

het in vreemde hande beland.

Uitlanders besit ons eiendom.

3Ons is weeskinders

wat nie meer ’n pa het nie.

Ons ma’s is weduwees.

4Ons moet betaal

vir die water wat ons drink,

brandhout moet ons koop.

5Agtervolgers blaas in ons nek.

Ons is moeg,

maar ons durf nie rus nie.

6By Egipte het ons gevra

vir hulp

en by Assirië vir kos.

7Ons voorouers

het sonde gedoen,

maar hulle is nou al dood.

En nou moet ons daarvoor betaal.

8Slawe het nou ons base geword

en niemand kan ons

van hulle bevry nie.

9Ons loop die risiko

om doodgemaak te word

wanneer ons in die wildernis

kos bymekaarmaak.

10Ons vel het donker geword

van die hongersnood,

asof dit in ’n oond gebak het.

11Ons vroue

word in Jerusalem gemolesteer

en ons dogters

in die dorpe van Juda verkrag.

12Ons leiers word opgehang

aan hulle hande.

Daar is geen respek

vir ons oumense nie.

13Jong mans moet koring maal

by die meul.

Jong seuntjies steier

onder vragte hout

wat hulle moet dra.

14Die leiers kan nie meer

by die stad se poort sit

en beraadslaag nie.

Die jongmense maak nie meer

musiek nie.

15Vreugde het verdwyn

uit ons harte.

Ons vrolike danse

het in treursange

verander.

16Die kroon

het van ons koppe geval.

Dit gaan sleg met ons,

want ons het sonde gedoen.

17Dit het ons swak gemaak.

Ons oë het dof geword.

18Die tempelheuwel is verlate.

Jakkalse sluip daar rond.

19U bly dieselfde, Here,

vir ewig en altyd.

U regeer

van geslag tot geslag.

20Hoekom

hou U aan

om van ons te vergeet?

Hoekom hou U so lank aan

om ons te vermy?

21Lei ons terug na U toe,

Here,

sodat ons

by U kan uitkom.

Maak ons lewe weer

soos dit vroeër was.

22Of het U ons

dan heeltemal verwerp?

Gaan U dan

vir altyd vir ons kwaad bly?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help