1 TESSALONISENSE 5 - Nuwe Lewende Vertaling

1Broers en susters, dis nie nodig dat ek vir julle skryf oor die presiese dag en datum wanneer hierdie dinge gaan gebeur nie.

2Julle weet mos self dat die Dag van die Here soos ’n dief in die nag kom.

3Wanneer die mense nog sê: “Alles is rustig en veilig,” dan skielik, soos geboortepyne ’n swanger vrou oorval, oorval ondergang hulle. Hulle sal dit beslis nie vryspring nie.

4Maar júlle, broers en susters, leef nie in die duisternis sodat dié dag julle soos ’n dief sal oorval nie.

5Julle is tog almal kinders van die lig en van die dag. Ons hoort nie by die nag of die duisternis nie.

6Laat ons daarom nie soos die ander mense aan die slaap gevang word nie. Laat ons wakker en nugter wees.

7Dié wat slaap, slaap snags, en dié wat hulle dronk drink, drink snags.

8Ons wat by die dag hoort, moet egter nugter bly deur geloof en liefde as ’n borsharnas aan te trek en as helm die vooruitsig op ons verlossing.

9God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus verlos word!

10Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe.

11Daarom, soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou.

Verskillende voorskrifte

12Broers en susters, ons vra julle om erkenning te gee aan die mense wat hard onder julle werk. Hulle is julle leiers in die Here se werk en hou julle op die regte pad.

13Ter wille van die taak wat hulle het, moet julle met liefde baie eerbied aan hulle betoon. Leef in vrede met mekaar.

14Broers en susters, ons druk julle dit op die hart: Wys die leeglêers tereg, praat die kleinmoediges moed in, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal.

15Kyk dat niemand weerwraak neem nie, maar streef eerder altyd die goeie na – vir mekaar en vir alle mense.

16Wees altyd vol blydskap.

17Moenie ophou bid nie.

18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is.

19Moenie die Gees uitblus nie.

20Moenie profesieë geringskat nie,

21maar ondersoek alles wat gesê word en behou wat goed is.

22Bly weg van elke vorm van kwaad.

Paulus se groetwoord

23Mag die God van vrede julle volkome aan Hom toewy. Ja, mag God julle so bewaar dat julle na gees, siel en liggaam volkome vlekkeloos sal wees wanneer ons Here Jesus Christus terugkom.

24Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!

25Broers en susters, bid ook vir ons.

26Groet al die broers en susters met die soen van Christelike liefde.

27Ek vra namens die Here dat dié brief aan al die broers en susters voorgelees sal word.

28Mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle wees.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help