PSALMS 31 - Nuwe Lewende Vertaling

Die Here

is my rots en vesting

1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

2 Here, ek kom na U

vir beskerming;

moenie dat ek beskaamd staan nie.

Red my,

want U is regverdig.

3Luister tog na my

en red my gou.

Wees vir my ’n rots

van veiligheid,

’n vesting waarheen ek kan vlug.

4U is my rots en my vesting.

Lei my, wees vir my ’n gids

ter wille van u Naam.

5Bevry my uit die vangnet

wat hulle vir my gestel het,

want U is my sterkte.

6In u hande gee ek my lewe oor.

U het my verlos,

Here, troue God.

7Ek haat dié

wat nikswerd afgode dien.

My vertroue is op die Here.

8Ek wil juig en bly wees

oor u troue liefde,

want U het my ellende gesien,

U weet van al my benoudhede.

9U het my nie oorgegee

in die mag van vyande nie,

maar my ’n veilige staanplek

gegee.

10 Here, wees my genadig,

want ek is in nood.

My trane verdof my oë.

My siel en liggaam kwyn weg.

11Ek sterf van verdriet;

droefheid verkort my lewe.

Ellende het my kragte uitgeput;

ek kwyn weg van binne af.

12Al my vyande het my geminag,

my bure het my verag,

vir vriende

was ek ’n verskrikking.

Op straat draai hulle weg van my.

13Ek word vergeet

asof ek dood is,

soos ’n ding wat vergaan.

14Ek hoor baie fluisteringe

oor my,

en daar is angs van alle kante.

My vyande span saam teen my;

hulle maak planne

om my dood te maak.

15Maar ek vertrou op U, Here,

ek sê: “U is my God!”

16My toekoms is in u hande.

Red my van vyande

en vervolgers.

17Laat u guns oor u dienaar skyn,

red my deur u troue liefde.

18Moenie dat ek

in die skande kom nie, Here,

want ek roep tot U om hulp.

Laat die goddeloses

in die skande kom,

en in stilte neerdaal

in die graf.

19Laat die leuenaars

stilgemaak word,

dié wat vol hoogmoed

en veragting

teen regverdiges praat.

20Hoe groot is die goedheid

wat U weggebêre het

vir hulle wat U dien,

wat U voor die oë

van die mense gee

aan hulle wat op U vertrou.

21U verberg hulle veilig

in u teenwoordigheid

teen komplotte van mense.

U bedek hulle in u skuilplek,

veilig van dié

wat hulle beskuldig.

22Prys die Here,

want Hy het sy troue liefde

aan my bewys toe ek in nood was,

soos in ’n beleërde stad.

23Toe ek bang was, het ek geroep:

“Ek is afgesny van die Here!”

Maar U het na my gebede

geluister

toe ek na U

om hulp geroep het.

24Getroues,

julle moet die Here liefhê!

Hy beskerm almal

wat getrou is,

maar verwaandes

straf Hy swaar.

25Daarom, wees sterk

en vol moed,

almal wat op die Here vertrou.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help