PSALMS 143 - Nuwe Lewende Vertaling

Ek strek my hande uit na U

1’n Dawidspsalm.

Luister na my gebed, Here!

Hoor tog my smeekgebede.

Antwoord my, want U is getrou

en regverdig.

2Moenie ’n regsgeding

teen u dienaar begin nie,

want niemand wat lewe,

is voor U onskuldig nie.

3My vyand agtervolg my,

vertrap my teen die grond,

hy laat my in duisternis lewe

soos dié wat lankal dood is.

4Ek het moed verloor;

ek is stomgeslaan.

5Ek dink aan die dae,

lank gelede.

Ek peins oor al u dade,

ek oordink die werke

van u hande.

6Ek strek my hande uit na U.

Ek dors na U

soos ’n verdorde land.

Sela

7Antwoord my tog gou, Here,

want ek het moed verloor.

Moenie U vir my verberg nie,

anders word ek

soos dié wat sterf.

8Laat ek in die oggend hoor

van u onfeilbare liefde,

want ek vertrou op U.

Wys my die pad

waarop ek moet loop,

want tot U rig ek my gebed.

9Bevry my van my vyande,

Here,

want ek skuil by U.

10Leer my om u wil te doen,

want U is my God.

Laat u goeie Gees my lei

op ’n pad wat gelyk is.

11 Here, laat my lewe

ter wille van u Naam;

lei my uit my nood,

want U is regverdig.

12Vernietig my vyande

ooreenkomstig u trou;

laat al my teenstanders omkom,

want ek is u dienaar.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help