JOB 33 - Nuwe Lewende Vertaling

Elihu spreek Job aan

1“Luister na my woorde, Job!

Hoor alles wat ek wil sê!

2Ek het nou begin,

laat my praat.

3Ek praat in opregtheid,

ek het die waarheid in my mond.

4Die Gees van God

het my gemaak,

die asem van die Almagtige

gee my lewe.

5Antwoord my dan, as jy kan!

Berei jou voor

en stel jou standpunt.

6Kyk, ek en jy

is dieselfde voor God.

Ek is ook van stof gemaak.

7Daarom hoef jy nie

vir my bang te wees nie.

Ek sal dit nie vir jou moeilik maak nie.

8“Ek het na jou geluister,

ek het elke woord gehoor

wat jy gesê het.

9Jy sê: ‘Ek is rein,

sonder sonde,

ek is onskuldig,

ek het nie gesondig nie.

10God soek skoor met my.

Hy beskou my as sy vyand.

11Hy sit my voete in die blok.

Elke tree van my

hou Hy dop.’

12“Ek sê vir jou

jy is verkeerd.

Jy het self gesê:

‘God is groter as ’n mens.’

13Nou, waarom bring jy dan

’n klag teen Hom?

Jy sê: ‘Hy luister nie

na mense nie.’

14Maar God praat

op verskillende maniere.

Ons kom dit net nie agter nie.

15Hy praat deur drome

en visioene,

in die nag wanneer mense

diep slaap

en op hulle beddens lê.

16Hy fluister in hulle ore

en verskrik hulle

met sy waarskuwings.

17Hy laat mense van gedagte

verander

om hulle van verkeerde dade

weg te hou,

en hulle van hoogmoed

te weerhou.

18Hy red hulle van die graf,

van die diep rivier

van die dood.

19Soms praat Hy met mense

deur ernstige siekte op ’n siekbed,

as pyn aan hulle liggaam knaag.

20Dan verloor mense hulle

eetlus.

Die lekkerste kos walg hulle.

21Hulle is later net vel en been.

22Hulle staan met die een voet

in die graf.

Die dood wag vir hulle.

23“Maar as ’n hemelse

boodskapper, ’n baie unieke een,

intree vir so ’n persoon

en hom regverdig verklaar,

24sal God hom genadig wees

en sê:

‘Laat hom vry.

Moenie dat hy sterf nie,

want Ek het ’n losprys gevind

vir sy lewe.’

25Dan word sy liggaam

weer so gesond

soos dié van ’n kind,

ferm en jeugdig

soos toe hy jonk was.

26As hy bid tot God,

sal Hy hom aanvaar.

God sal hom met vreugde

ontvang,

en hom ’n mens maak

wat reg lewe.

27Hy sal vir sy vriende sê:

‘Ek het gesondig

en verkeerd gedoen,

maar God het my nie gestraf

soos wat ek verdien het nie.

28God het my gered van die graf,

en nou is my lewe

gevul met lig.’

29“Ja, God doen al hierdie dinge

vir mense, weer en weer.

30Hy red hulle van die graf

sodat hulle mag lewe

in die lig van die lewendes.

31“Luister mooi, Job.

Luister na my.

Bly stil

en laat my nog praat.

32As jy my kan antwoord,

praat dan.

Ek sou jou graag gelyk wou gee

dat jy geregverdig is.

33As jy niks het om te sê nie,

luister dan na my.

Ek sal vir jou

wysheid leer.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help