AMOS 3 - Nuwe Lewende Vertaling

1Luister na hierdie boodskap wat Ek, die Here, oor julle te sê het, mense van Israel. Dit raak die hele volk wat Ek uit Egipte laat trek het.

2“Ek het net vir julle gekies

uit al die volke

op die aarde.

Daarom sal Ek julle straf

vir al julle sondes.”

Getuies teen Israel

3Sal twee mense

saam op reis gaan

sonder om eers af te spreek

om dit te doen?

4Sal ’n leeu in ’n bos brul

sonder dat hy ’n prooi het?

Sal ’n leeu grom

in die ruigtes

as hy niks gevang het nie?

5Sal ’n voël gevang word

as ’n wip nie gestel is nie?

Sal ’n wip toeklap op die grond

as dit nie

iets gevang het nie?

6As die oorlogstrompet blaas,

sal mense dan nie skrik nie?

As ’n ramp ’n stad tref,

het die Here

dit dan nie veroorsaak nie?

7Die oppermagtige Here

doen niks

sonder om sy diensknegte,

die profete,

daaroor in te lig nie.

8Die leeu het gebrul,

wie sal nie bang wees nie?

Die oppermagtige Here

het gepraat!

Wie sal weier om as profeet

op te tree?

9Kondig die volgende boodskap in die paleise in Asdod en in Egipte aan: “Kom bymekaar op die heuwels rondom Samaria en aanskou die groot misdade en onderdrukking wat in hierdie stad aangaan.”

10Die Here sê:

“Hierdie mense het vergeet

wat dit beteken

om reg te laat geskied.

Hulle luukse blyplekke

is vol rykdom,

deur diefstal en geweld

in die hande gekry.”

11Die oppermagtige Here

sê verder:

“Daarom is ’n vyand op pad!

Hy sal die vestings afbreek

en jou paleise plunder.”

12Die Here sê:

“’n Skaapwagter

sal twee bene

of miskien ’n stukkie oor red

uit ’n leeu se bek.

Net so sal die Israeliete

gered word,

hulle wat in Samaria

op gemaklike banke sit

en op ’n rusbank

in Damaskus.”

13Luister hierna en kondig dit aan deur die hele Israel, sê die oppermagtige Here die almagtige God:

“Luister na My

en waarsku Jakob se nageslag.

14Die dag as Ek

Israel se oortredings straf,

sal Ek ook die heidense altare

in Bet-El vernietig.

Die afgebreekte horings

van die altaar

sal op die grond val.

15Ek sal winterhuise

en somerhuise verwoes.

Ek sal die ivoorversierde huise

afbreek,

niks sal van al hierdie plekke

oorbly nie.”

Dit is wat die Here sê!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help