ESEGIËL 48 - Nuwe Lewende Vertaling

Verdeling van die land

1“Hier is die lys van die stamme van Israel en die gebied wat elkeen moet kry: Die grond van Dan is in die noorde. Die grenslyn volg die Getlonpad na Lebo-Hamat, dan na Gasar-Enan op die grens met Damaskus, met Hamat aan die noordekant. Dan se gebied strek heelpad oor die grondgebied van Israel, van die ooste na die westekant toe.

2Aser se gebied lê suid van Dan en strek ook van oos na wes.

3Naftali se gebied lê suid van Aser, ook van oos na wes.

4Manasse se grond lê suid van Naftali, en strek ook van oos na wes.

5Suid van Manasse lê Efraim,

6en dan Ruben

7en dan Juda. Hulle almal se grense strek van oos na wes.

8“Suid van Juda is die grond wat opsy gesit word vir ’n spesifieke doel. Die heiligdom moet in hierdie gebied wees. Dit moet dertien en ’n half kilometer breed wees en net so lank soos die stamme se gebiede, van die oostelike tot by die westelike grens.

9Die gebied wat julle opsy sit vir die Here se tempel moet dertien en ’n half kilometer lank en tien en ’n half kilometer breed wees.

10Hierdie gebied is tot beskikking van die priesters, en moet ’n strook wees van dertien en ’n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die heiligdom van die Here is in die middel hiervan.

11Die gebied word opsy gesit vir gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle was gehoorsaam aan My en het nie afgedwaal soos die mense van Israel en die res van die Leviete nie.

12Dié grond is hulle spesiale deel van die heiligste gedeelte van die land. Langs die priesters se grond lê dié van die ander Leviete.

13Die grond wat aan die Leviete toegedeel word, moet dieselfde grootte en vorm wees as dié wat aan die priesters behoort – ook dertien en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed. Saam is dié twee gedeeltes dus dertien en ’n half kilometer lank by tien en ’n half kilometer breed.

14Dié spesiale grond mag nooit verkoop of verruil word nie, want dit behoort aan die Here. Dit is apart gesit om heilig te wees.

15“’n Addisionele strook grond van dertien en ’n half by twee en ’n half kilometer wat oorbly, is bedoel as gewone stadsgebied, woongebied en weigebied. Die stad moet in dié gebied wees.

16Die stad moet twee en ’n half vierkante kilometer wees.

17Aan al vier kante moet daar ’n onbeboude strook van 130 meter wees.

18“Buite die stad moet daar grond wees wat vyf kilometer oos en vyf kilometer wes van die stad strek, al langs die gewyde gebied. Hierdie grond moet bewerk word om kos te verskaf vir die mense wat in die stad werk.

19Die mense wat in die stad werk, mag die grond bewerk. Hulle kom uit al die stamme van Israel.

20“Die hele gebied, insluitende die gewyde grond en die stad, is dus dertien en ’n half vierkante kilometer.

21“Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van die gewyde gebied met die tempel in die middel daarvan, asook die stadsgebied, is tot beskikking van die regeerder. Elkeen van hierdie gebiede is dertien en ’n half kilometer breed en loop tot by die oosgrens en wesgrens van die land.

22Die regeerder se land sluit dus alles in tussen die gebiede wat aan Juda en Benjamin toegeken is, behalwe vir die gebiede wat opsy gesit is vir die gewyde grond en die stad.

23“Dit is die grond wat aan die oorblywende stamme toegeken word. Benjamin se grond is suid van die regeerder se grond, en strek oor die hele land van Israel van die oosgrens tot teen die wesgrens.

24“Suid van Benjamin se grond lê dié van Simeon, wat ook van oos na wes strek.

25“Volgende is die grond van Issaskar, met dieselfde oostelike en westelike grense.

26“Dan kom Sebulon aan die beurt, wat ook oor die land strek van oos na wes.

27“Die gebied van Gad is net suid van Sebulon met dieselfde grense in die ooste en weste.

28Die suidelike grens van Gad loop van Tamar tot by die waters van Meriba-Kades en volg dan die Egiptespruit tot by die Middellandse See.

29“Dit is die gebiede wat opsy gesit moet word vir elke stam se erfdeel, sê die oppermagtige Here.”

Die poorte van die stad

30“Die uitgange uit die stad is soos volg: Die noordelike muur is twee en ’n kwart kilometer lank

31en daar is drie poorte, genoem na stamme van Israel. Die eerste moet Ruben genoem word, die tweede Juda en die derde Levi.

32Die oostelike muur moet ook twee en ’n kwart kilometer lank wees, met drie poorte, vernoem na Josef, Benjamin en Dan.

33Die suidelike muur, ook twee en ’n kwart kilometer lank, is vernoem na Simeon, Issaskar en Sebulon.

34En die westelike muur, ook twee en ’n kwart kilometer lank, se poorte moet vernoem word na Gad, Aser en Naftali.

35“Die omtrek van die stad sal nege en ’n half kilometer wees. Van daardie dag af sal die stad se naam wees: ‘Die Here is daar.’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help