JESAJA 33 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap oor Assirië

1Die verwoesting is vir jou,

verwoester

wat self nie verwoes is nie.

Ellende wag vir jou, verraaier

wat self nie verraai is nie!

Wanneer jy opgehou het

om te verwoes,

sal jy self verwoes word.

Wanneer jy ophou om te verraai,

sal jy self verraai word.

2 Here, wees ons genadig!

Ons wag op U!

Wees elke dag ons krag,

ons redding in tye van nood.

3Die vyand vlug

wanneer hulle u stem hoor.

Wanneer U opstaan,

vlug die volke.

4Wat julle vir julleself

versamel het,

sal verorber word

soos sprinkane daarop toesak.

Soos ’n swerm sprinkane

sal Israel daarop toesak.

5Die Here is hoog verhewe.

Hy woon in die hemel.

Hy sal Jerusalem met reg

en geregtigheid vul.

6Lewenslank

is Hy jou vaste fondament,

’n ryke voorraad van redding,

wysheid en kennis.

As jy die Here dien,

sal jy al hierdie skatte kry.

7Jou ambassadeurs huil

van teleurstelling,

want Assirië het

jou versoek vir vrede

summier verwerp.

8Jou weë is verlate.

Niemand reis op die paaie nie.

Assirië het hulle ooreenkoms

met jou verbreek

en gee niks om vir die beloftes

wat hulle voor getuies

gemaak het nie.

Hulle het respek vir niemand nie.

9Die hele land huil en vergaan.

Die Libanonberge verwelk.

Die Saronvlakte

is soos ’n woestyn.

Die bome in Basan en Karmel

staan kaal.

10“Nou sal Ek opstaan,”

sê die Here.

“Nou staan Ek op

en laat my mag geld.

11Wat julle voortbring, is kaf

en julle gee geboorte aan strooi.

Julle asem is soos vuur

wat julleself verteer.

12Jou mense sal soos kalk

verbrand word.

Soos afgekapte doringbosse

sal hulle verbrand word.

13“Luister na wat Ek gedoen het,

julle nasies wat daar ver is.

En julle hier naby,

erken my mag.”

14Die sondaars in Sion

bewe van vrees.

Die goddeloses is vol angs:

“Wie van ons kan dit uithou

in ’n verterende vuur?

Wie van ons kan uithou

in ’n vuur wat aanhou brand?”

15Net mense wat reg lewe

en sê wat reg is,

wat weier om deur bedrieëry

wins te maak,

wat wegbly

van omkopery,

wat nie luister

na moordplanne nie

en hulle oë toemaak

vir die beplanning

van misdade.

16Sulke mense sal veilig wees.

Die rotsvesting beskerm hulle.

Hulle sal altyd kos

en water in oorvloed hê.

17Daar kom ’n tyd dat jy self

die koning sal sien

in al sy glorie.

Jy sal ’n land sien

wat strek tot in die verte.

18Jy sal dan terugdink

aan die tyd van angs:

“Waar is die een

wat ons getel het?

Waar is die een

wat buit moes weeg?

Waar is die een

wat ons torings moes opskryf?”

19Hierdie gewelddadige mense

sal skielik weg wees,

daardie mense met ’n vreemde,

onverstaanbare taal.

20Jerusalem sal die plek

van aanbidding en feeste wees.

Jerusalem sal ’n veilige plek wees

waar jou tent

nie verskuif sal word

en sy tentpenne

nie uitgetrek sal word

of enige van sy toue

sal breek nie.

21Daar sal die Here

jou magtige Beskermer wees.

Hy sal soos ’n wye rivier wees

waarop geen vyand

kan oorvaar teen jou nie.

22Want die Here is ons Regter.

Die Here is ons Regeerder.

Die Here is ons Koning.

Hy is die een wat ons sal red.

23Die vyand se skeepstoue

hang slap.

Die maste staan nie regop nie.

Die seile is nie gespan nie.

God se volk verdeel die oorvloedige buit.

Selfs mense wat verlam is,

kry genoeg.

24Die mense van Israel

sal nooit weer sê:

“Ek is hulpeloos en siek” nie,

want die sonde van mense

is vergewe.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help