DANIËL 10 - Nuwe Lewende Vertaling

Daniël se laaste visioen

1In die derde jaar van Kores se bewind in Persië het Daniël, wie se ander naam Beltsasar was, nog ’n visioen gehad. Dit het gegaan oor dinge wat nog beslis sou gebeur. Dit sou ’n tyd van oorlog wees. Daniël het verstaan wat hierdie visioen beteken.

2Tydens die visioen was ek, Daniël, al drie weke lank besig om te treur.

3Ek het nie in daardie drie weke enige geurige kos of vleis geëet nie. Ek het nie eers aan wyn geraak nie. Ek het ook nie van enige geurige olie gebruik gemaak nie.

4Dit was op 23 April. Ek het op die oewer van die groot Tigrisrivier gestaan.

5Ek het opgekyk en ’n man gesien met klere van fyn linne en ’n goue gordel om sy lyf.

6Sy lyf het soos edelstene gelyk. Sy gesig was soos weerligstrale, sy oë soos vlammende fakkels. Sy arms en sy voete was soos koper wat blink gevryf is. Die stem waarmee hy gepraat het, het geklink soos die geruis van ’n skare mense.

7Dit was net ek, Daniël, wat hierdie gesig gesien het. Die mans wat saam met my was, het dit glad nie gesien nie. Hulle het skielik baie bang geword en weggehardloop om te gaan wegkruip.

8Ek het toe alleen agtergebly en na hierdie visioen staan en kyk. Daar het nie ’n greintjie krag in my oorgebly nie. Ek het doodsbleek geword en daar het geen krag in my oorgebly nie.

9Ek het die man hoor praat. Toe ek hoor hy praat, het ek flou neergeval en met my gesig op die grond gelê.

10’n Hand het my aangeraak en my op my hande en knieë gehelp. Ek het staan en bewe.

11Hy het vir my gesê: “Daniël, man wat God baie liefhet, luister aandagtig na wat ek vir jou sê. Staan op jou voete! Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek al bewend regop gaan staan.

12Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël. Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor. Ek het gekom in antwoord op jou gebed.

13Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan. Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel. Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse.

14Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur. Die visioen het met daardie laaste dae te doen.”

15Terwyl hy hierdie dinge vir my gesê het, het ek afgekyk grond toe. Ek kon niks sê nie.

16Die een wat soos ’n mens lyk, het toe aan my lippe geraak. Ek het begin praat en vir die een wat voor my staan, gesê: “Meneer, die visioen het my ontstel. Ek is benoud. Ek is kragteloos.

17Hoe kan Meneer se kneg nog met Meneer praat? Ek het nie die krag om regop te bly nie. Ek kan nie asem kry nie.”

18Die een wat soos ’n mens lyk, het toe weer aan my geraak en my sterk gemaak.

19“Moenie bang wees nie,” sê hy weer vir my. “God is lief vir jou. Wees rustig. Wees sterk.” Terwyl hy met my gepraat het, het ek sterk geword. Ek het vir hom gesê: “Meneer kan maar nou met my praat. Ek is sterk genoeg.”

20Hy sê toe: “Weet jy waaroor ek na jou toe gekom het? Ek moet teruggaan om te gaan veg teen die aanvoerder van die Perse. Ek moet uittrek om te veg, want die aanvoerder van die Grieke het opgeruk.

21Ek moet vir jou sê wat in die Boek van die Waarheid geskryf staan. Daar is niemand wat saam met my hierdie leier kan teenstaan nie behalwe Migael, julle leier.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help