JESAJA 23 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap oor Tirus

1Hierdie boodskap het oor

Tirus na my toe gekom:

Huil, skepe van Tarsis,

want Tirus is vernietig.

Daar is geen huis of hawe oor.

Alles is weg!

Wat julle in Siprus gehoor het,

is waar.

2Huil in stilte,

mense van die kus

en handelaars van Sidon.

Julle gesante het oor die see gereis.

3Oor groot waters het hulle

graan van Egipte af gebring,

die oes van die Nyl

om handel te dryf.

Jy was die volke se markplein.

4Kry skaam, stad van Sidon,

seevesting.

Want die see sê:

“Nou is ek kinderloos.

Ek het nie seuns of dogters nie.”

5As Egipte die nuus

oor Tirus hoor,

sal sy mense bewe.

6Vlug nou na Tarsis toe!

Huil, julle mense

wat by die see woon!

7Is dit julle stad vol joligheid,

die stad wat so lank bestaan,

wie se mense in verre lande

gaan woon het?

8Wie het hierdie ramp

oor Tirus gebring?

Tirus wat konings gekroon het,

wie se handelaars

soos prinse ontvang is,

en wie se sakelui geëer is.

9Die Here, die Almagtige,

het besluit

om jou trots te vernietig

en alle menslike arrogansie

te verneder.

10Bewerk julle grond nou

soos by die Nyl gedoen word,

inwoners van Tarsis,

want julle hawe

bestaan nie meer nie.

11Die Here hou sy hand

oor die see.

Hy skud die koninkryke

van die aarde.

Hy beveel:

Kanaän se vestingstede

moet vernietig word.

12Hy sê:

“Nooit meer sal jy bly wees nie,

verdrukte dogter van Sidon.

Selfs as jy

na Siprus vlug,

sal jy nie rus kry nie.”

13Kyk na die Galdeërs se land –

die mense van daardie land

is weg!

Die Assiriërs het Babilon

vir die wilde diere gegee.

Hulle het stormramme

daarteen opgerig,

die paleise afgebreek,

alles in ’n puinhoop verander.

14Huil, skepe van Tarsis,

want julle vesting is vernietig!

15Vir 70 jaar lank,

so lank as wat ’n koning leef,

sal Tirus

vergete bly lê.

As die 70 jaar verby is,

sal Tirus soos die prostituut sing:

16“Vat jou lier,

stap deur die stad,

prostituut wat vergete was!

Speel mooi,

lied na lied

sodat hulle jou

weer sal onthou!”

17Na 70 jaar

sal die Here Tirus opwek.

Maar die stad

sal weer ’n prostituut word

vir al die koninkryke

van die wêreld.

18Tog sal die stad

se wins en inkomste

aan die Here gewy word.

Haar rykdom sal gebruik word

om goeie kos en mooi klere

te verskaf

vir die Here se priesters.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help