JEREMIA 39 - Nuwe Lewende Vertaling

Die val van Jerusalem

1In Januarie van die negende jaar wat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar en sy leër teruggekom en Jerusalem beleër.

2Twee en ’n half jaar later, op 18 Julie, het hulle dit reggekry om ’n gat in die stadsmuur te breek.

3Al die offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die Middelhek gaan sit. Onder hulle was Nergal-Sareser van Sinmagir en Nebu-Sarsekim, ’n hoofoffisier, verder ook Nergal-Sareser, die koning se adviseur en baie ander.

4Toe koning Sedekia en sy soldate die Babiloniërs by die stadsingang sien, het hulle gevlug toe dit donker was. Hulle het deur die koning se tuin gegaan en by die hek tussen die twee mure uit die stad gegaan. Van daar het hulle in die rigting van die Jordaanvallei gegaan.

5Maar die Babiloniërs het hom agtervolg en koning Sedekia op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Hulle het hom gevang en hom na Nebukadnesar, koning van Babel, toe gebring. Nebukadnesar was in Ribla in die Hamatgebied. Daar het hy vir Sedekia gesê hoe hy hom gaan straf.

6Daar in Ribla het die koning van Babel Sedekia se seuns voor sy oë doodgemaak. Hy het ook die leiers van Juda daar doodgemaak.

7Daarna het hy Sedekia se oë uitgesteek. Hy het hom met kettings geboei en hom na Babel weggevoer.

8Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise afgebrand. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.

9Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in die stad oorgebly het, die res van die mense van Juda en dié wat reeds na die Babiloniërs oorgeloop het, na Babel toe weggevoer.

10Maar Nebusaradan het van die armste mense in Juda agtergelaat. Hy het by dié geleentheid vir hulle wingerde en landerye gegee.

Jeremia se omstandighede verander

11Koning Nebukadnesar van Babel het aan Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, opdragte oor Jeremia gegee. Hy het gesê:

12“Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”

13Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, het die senior offisier Nebusasban en Nergal-Sareser, die koning se adviseur, en ook nog ander offisiere gestuur.

14Hulle moes Jeremia uit die tronk haal. Hulle het hom in die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, geplaas. Hy het Jeremia na sy huis toe gevat. So kon Jeremia weer tussen sy mense bly.

15Terwyl Jeremia nog in die tronk was, het die Here vir hom ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

16“Sê vir Ebed-Melek die Etiopiër die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan alles aan Jerusalem doen wat Ek gedreig het om te doen. Vir die stad wag daar nie goeie nie, maar slegte dinge. As die tyd kom, sal jy dit sien gebeur.

17Dan sal Ek jou red, sê die Here. Jy sal nie oorgelewer word in die mag van dié mense vir wie jy so bang is nie.

18Omdat jy My vertrou, sal Ek jou lewe spaar. Jy sal nie in die oorlog sterf nie, Ek sal sorg dat jy veilig is. Dit is wat Ek, die Here, sê sal gebeur!’”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help