PSALMS 81 - Nuwe Lewende Vertaling

As my volk maar na My wou luister!

1Vir die koorleier: Met musiek. Van Asaf.

2Jubel tot eer van God,

ons sterkte!

Jubel tot eer

van die God van Jakob!

3Sing! Slaan die tamboeryn!

Laat hoor die klank van lier

en harp!

4Blaas die ramshoring

op nuwemaan

en wanneer dit volmaan is,

op die dag van ons fees!

5Want dit is die instelling

vir Israel,

die voorskrif

van die God van Jakob.

6Dit is as ’n herinnering

vir Josef bepaal

toe God

teen Egipte

opgetrek het.

Ek het in ’n vreemde taal

gehoor:

7“Die las op jou skouer

het Ek afgehaal;

jou hande

kon die mandjie los.

8In nood het jy geroep,

en Ek het jou gered;

uit ’n donderwolk

het Ek geantwoord.

By die waters

van Meriba

het Ek julle

op die proef gestel.

Sela

9“Luister, my volk,

Ek wil julle waarsku.

Israel, as julle maar net

na My wou luister!

10Julle mag nie

’n ander god dien,

of voor ’n vreemde god buig nie.

11Want Ek is die Here julle God

wat julle

uit Egipte gebring het.

Maak julle mond wyd oop,

dan sal Ek dit vol maak.

12“Maar nee,

my volk het nie geluister nie.

Israel wou niks van My weet nie.

13Daarom

het Ek hulle laat begaan,

hulle prysgegee

aan hulle koppigheid

om te doen

volgens hulle eie begeerte.

14Ag, as my volk maar

na My wou luister!

As Israel net

my weg wou volg!

15Dan sal Ek gou

hulle vyande onderwerp,

hulle aanvallers

eiehandig verslaan!”

16Mag hulle wat die Here haat,

voor Hom kruip.

Mag hulle onderwerping

vir altyd geld.

17Maar Hy sal julle versadig

met die beste koring.

Ek sal julle versadig

met heuning uit ’n rots.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help