JOB 23 - Nuwe Lewende Vertaling

Job praat ’n agtste keer in antwoord op Elifas

1Job het weer gepraat:

2“Ek kla vandag nog steeds bitterlik.

Ek probeer om

nie hard te kreun nie.

3As ek maar net geweet het

waar om God te vind,

sou ek na sy troon gaan.

4Ek sou my saak voor Hom stel,

en my argumente

voor Hom noem.

5Ek sal luister na sy antwoord

en begryp wat Hy vir my sê.

6Sou Hy in sy groot krag

met my redeneer?

Nee, Hy sal sekerlik

na my luister.

7Opregte mense

kan by Hom pleit

en ek sal vir altyd deur my Regter

vrygespreek word.

8“Maar soek ek in die ooste,

kry ek Hom nie.

In die weste

kan ek Hom ook nie vind nie.

9Ek sien Hom nie

in die noorde nie,

want Hy is onsigbaar.

In die suide soek ek Hom,

maar ek vind Hom nie.

10Maar Hy weet

waarheen ek gaan!

Wanneer Hy my toets,

sal ek na vore tree suiwer

soos goud uit ’n vuur.

11Want ek het op sy paaie gebly

en Hom gevolg

sonder om weg te draai.

12Ek het alles gedoen

wat Hy my beveel het.

Wat Hy sê,

het ek in my hart bewaar.

13En tog bly sy gedagte oor my

onveranderd.

Wie kan Hom teenstaan?

Hy doen wat Hy wil.

14Hy doen met my

wat Hy beplan het.

Hy bepaal my bestemming.

15G’n wonder ek is so verskrik

voor Hom nie!

As ek daaraan dink,

is ek bevrees vir Hom.

16God het my moed gebreek.

Die Almagtige

het my verskrik.

17Donkerheid is rondom my.

Tog bly ek nie stil nie

al het die duisternis my oorval.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help