HEBREËRS 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Jesus is Moses se meerdere

1En nou, broers en susters – julle wat aan God behoort en vir die hemel bestem is – fokus nou skerp op hierdie Jesus van wie ons bely dat Hy Apostel en Hoofpriester is.

2Hy was getrou aan God wat Hom aangestel het, net soos Moses getrou gedien het in God se hele huishouding.

3Maar Jesus verdien baie groter erkenning as Moses, net soos die persoon wat ’n huis bou baie meer lof kry as die huis self.

4Want elke huis het ’n bouer, maar God is die bouer van alles.

5Moses was getrou in die hele huis van God, maar dan net as dienaar. Sy werk moes getuig van die waarhede wat God later sou uitspreek.

6Maar Christus, as sy getroue Seun, was in bevel van die hele huis van God. Ons is daardie huis van God as ons met moed en vertroue bly vashou aan ons toekomsverwagting.

Ernstige waarskuwing teen ’n houding van ongeloof

7Julle moet dus luister wanneer die Heilige Gees die volgende sê:

“Vandag wanneer julle

sy stem hoor,

8moet julle nie julle harte verhard

soos Israel gedoen het

toe hulle gerebelleer het nie,

toe hulle God se geduld

in die woestyn getoets het.

9-10Dáár het julle voorvaders

my geduld beproef

ten spyte daarvan

dat hulle vir 40 jaar

my magtige dade aanskou het.

Daarom het Ek vir daardie geslag

kwaad geword

en gesê: ‘Hulle harte dwaal altyd

van My af weg.

Hulle wou nie doen

wat Ek van hulle verwag nie.’

11Daarom het Ek in my toorn

onder eed verklaar:

‘Hulle sal nooit my land van rus

binnegaan nie.’”

12Wees dan versigtig, broers en susters. Maak seker dat daar nie by enigeen van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof posvat wat julle vervreem van die lewende God nie.

13Julle moet mekaar van dag tot dag aanspoor, ja, so lank as wat die “vandag” nog bestaan, om te keer dat een van julle deur die verleidelikheid van die sonde verhard word.

14Want as ons enduit stewig bly vashou aan die vertroue op God waarmee ons oorspronklik begin het, het ons deelgenote geword van alles wat aan Christus behoort.

15Daarom moet julle nooit die vermaning vergeet nie:

“Vandag wanneer julle sy stem

hoor,

moet julle nie julle harte verhard

soos Israel gedoen het

toe hulle gerebelleer het nie.”

16Wie was daardie mense wat gerebelleer het alhoewel hulle God se stem gehoor het? Was hulle nie die mense vir wie Moses uit Egipte gelei het nie?

17En vir wie was God 40 jaar lank kwaad? Was dit nie die mense wat gesondig het en wat in die woestyn omgekom het nie?

18Oor wie het God met ’n eed verklaar dat hulle nie sy land van rus sal binnegaan nie? Was dit nie juis hulle wat aan Hom ongehoorsaam was nie?

19Ons sien dus dat dit juis as gevolg van hulle ongeloof was dat hulle nie in die land van rus kon ingaan nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help