JESAJA 46 - Nuwe Lewende Vertaling

Babel se vals gode

1Die afgodsbeelde van Babel,

Bel en Nebo,

word weggery op waens.

Osse sleep hulle weg.

Die arme diere steier

onder die swaar vrag.

2Die afgodsbeelde

en diere wat hulle wegsleep,

sak inmekaar.

Die gode kan die mense

nie beskerm nie.

Maar die mense kan ook nie

die gode beskerm nie.

Saam gaan hulle in ballingskap.

3“Luister na My,

nageslag van Jakob,

oorblyfsel uit die nageslag

van Israel.

Ek het voor geboorte

vir julle gesorg

en julle kleintyd

vasgehou.

4Ek sal julle God wees

deur julle hele lewe.

Tot julle stokoud is,

sal Ek julle dra.

Ek het julle gemaak,

en sal vir julle sorg.

Ek sal julle ondersteun

en julle red.

5“Met wie wil julle My vergelyk,

aan wie wil julle My gelykstel?

Wie is soos Ek,

om hom met My te vergelyk?

6Mense gooi goud uit ’n sak,

en weeg silwer af op ’n skaal.

Hulle huur ’n goudsmid

om ’n afgodsbeeld te maak.

Dan buig hulle

en aanbid die afgodsbeeld.

7Hulle dra die beeld

op hulle skouers

na ’n ander plek.

Hulle sit dit daar neer,

en daar staan dit!

Dit kan glad nie vanself

beweeg nie.

Wanneer iemand roep,

is daar geen antwoord nie.

Dit kan niemand red

uit sy nood nie.

8“Onthou dit, neem dit ter harte,

julle opstandiges.

9Dink aan wat lank gelede

gebeur het.

Ek is God.

Daar is geen ander nie.

Ek is God.

Niemand is soos Ek nie.

10Ek maak bekend wat gaan gebeur

nog voor dit gebeur.

Wat Ek besluit, voer Ek uit.

Wat Ek wil, doen Ek.

11Uit die ooste

roep Ek ’n roofvoël,

’n man uit ’n ver land,

wat my opdrag sal uitvoer.

Wat Ek gesê het,

sal Ek laat gebeur.

Wat Ek beplan,

dit sal Ek doen.

12Luister na My, julle opstandiges,

julle wat nie reg doen nie.

13Ek staan reg om te doen

wat reg is.

Dis nie ver nie.

Die redding wat Ek bring,

sal nie lank wegbly nie.

Ek bring redding vir Sion,

my heerlikheid na Israel.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help