JEREMIA 8 - Nuwe Lewende Vertaling

1Die Here sê: “In dié tyd sal die vyand die grafte oopmaak. Hulle sal die geraamtes van die konings van Juda en die leiers uit die grafte haal, asook die geraamtes van die priesters, die profete en die gewone mense van Jerusalem.

2Hulle sal hierdie bene uitsprei onder die son, die maan en die sterre. Hulle het mos die son, die maan en die sterre as gode liefgehad, gedien en aanbid! Hulle sal die bene nie weer bymekaarmaak en begrawe nie. Dit sal soos mis bo-op die grond bly lê.

3Almal wat dalk nog oorleef, sal verkies om eerder dood te wees as om daar te bly lewe waarheen Ek hulle wegjaag.” Dit is wat die Here, die Almagtige, sê!

Valse wysheid

4“Jeremia, gaan sê vir hulle

wat Ek, die Here, sê:

As mense val,

staan hulle dan nie weer op nie?

Of as hulle agterkom

hulle is op ’n verkeerde pad,

draai hulle nie terug nie?

5Waarom hou hierdie volk aan

om af te dwaal?

Hoekom hou Jerusalem aan

om My te bedrieg?

Hoekom weier hulle

om terug te kom?

6Ek het fyn geluister na hulle

gesprekke.

Hulle praat nie

die waarheid nie.

Nie eers een van hulle

is spyt oor die dinge

wat hulle doen nie.

Niemand van hulle sê:

‘Wat het ek aangevang!’ nie.

Nee, hulle storm in sonde voort,

soos ’n perd injaag

in ’n geveg!

7Die trekooievaar in die lug

weet wanneer om te kom,

die tortelduif en die swaeltjie

weet wanneer dit tyd is

om te vlieg,

maar my volk

ken nie die vereistes

van die Here nie.

8Hoe kan julle dan sê:

‘Ons het wysheid,

want ons het die Here se gebooie

by ons’?

Maar hulle

wat die voorskrifte

neerskryf,

pleeg bedrog

en vervals die gebooie.

9Julle wyse mense

sal in die skande kom,

want hulle is verward

en vasgevang

in hulle eie manier van dink.

Hulle het die Here se woord verwerp.

Hoe wys is hulle werklik?

10Ek sal hulle vroue en grond

vir invallers gee,

want almal van my volk,

klein en groot,

bedrieg om te kry

wat nie aan hulle behoort nie.

Selfs die priesters en die profete

doen sulke oneerlike dinge.

11Hulle pogings om my volk

se wonde te genees,

is oppervlakkig.

Hulle sê: ‘Vrede, vrede,’

terwyl daar geen vrede is nie.

12Is hulle glad nie skaam

oor al die afstootlike dinge

wat hulle doen nie?

Nee, hulle bloos nie eers nie!

Daarom sal hulle

tussen die gesneuweldes lê.

Wanneer Ek hulle straf,

sal Ek hulle verneder,”

sê die Here.

13“Ek sal hulle oeste wegneem,”

sê die Here.

“Daar sal geen druiwe

aan die wingerdstokke wees nie.

Daar sal geen vye

aan die bome wees nie

en die blare sal verdor.

Wat Ek vir hulle gegee het,

sal Ek weer terugneem,”

sê die Here.

14Dan sal die volk sê: “Hoekom sal ons hier bly sit? Kom ons gaan na die versterkte dorpe en sterf daar. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet vergaan. Hy het vir ons vergiftigde water gegee om te drink, want ons het teen die Here gesondig.

15“Ons wag op vrede, maar daar het niks goeds gebeur nie. Ons het uitgesien na ’n tydperk van genesing, maar iets skrikwekkends het gebeur.

16Ons kon alreeds uit Dan die gesnuif van die vyand se perde hoor! Die hele land het gebewe van die perde se gerunnik. Die vyand se plan was om ons land en alles daarin te kom verwoes, ook die stad en die mense wat daarin bly.”

17Die Here sê: “Ek stuur die vyand soos giftige slange tussen julle in, adders wat julle nie kan besweer nie. Die slange sal julle pik.”

Jeremia huil oor Juda se sonde

18My hartseer

kan nie genees word nie.

My hart is gebreek.

19Hoor die gehuil van my mense

oor die hele land:

“Is die Here nie meer

in Jerusalem nie?

Is die Koning ook nie meer

in die stad nie?”

Die Here vra: “Hoekom

het julle My geterg

met julle afgodsbeelde

en vreemde, nuttelose afgode?”

20“Die oes is af

en die somer is verby;

tog is ons nog nie gered nie,”

kla die mense.

21Ek treur oor die pyn

van my mense.

Ek is stomverslae van verdriet.

22Is daar nie medisyne in Gilead nie?

Is daar nie ’n dokter wat

kan help nie?

Hoekom is daar nie genesing

vir my volk nie?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help