JOB 34 - Nuwe Lewende Vertaling

Elihu herinner Job aan God se regverdigheid

1Elihu het gesê:

2“Luister na my,

julle wyse mans.

Gee aandag,

julle wat baie kennis het.

3Net soos die mond

goeie kos proe,

so toets die oor die woorde.

4Daarom, laat ons vir onsself

onderskei wat reg is;

laat ons saam leer wat goed is.

5“Job het gesê:

‘Ek is onskuldig,

maar God het my regte

weggeneem.

6Ek is onskuldig,

maar hulle noem my

’n leuenaar.

My lyding is ongeneeslik,

al het ek nie gesondig nie.’

7Was daar al ooit iemand

so verwaand soos Job,

met sy dors na lasterlike praatjies?

8Hy soek die geselskap op

van bose mense.

Hy bestee sy tyd

met kwaaddoeners.

9Hy het selfs gesê:

‘Ek mors my tyd

om God tevrede te stel.’

10“Luister na my,

julle wat verstand het!

Almal weet dat God

nie sondig nie.

Die Almagtige doen niks

verkeerd nie.

11Hy vergeld mense

volgens hulle dade.

Hy behandel mense

volgens hulle optrede.

12Dis ondenkbaar dat God

die verkeerde sou doen.

Die Almagtige kan nie

die reg verdraai nie.

13Wie het die aarde

aan God se sorg toevertrou?

Wie het Hom aangestel

oor die hele wêreld?

14As Hy sy Gees wegneem

en sy asem onttrek,

15hou alle lewe op om te bestaan.

Mense word dan stof.

16“As jy enige verstand het,

luister dan hierna.

Hoor wat ek sê.

17Sou God kon regeer

as Hy regverdigheid haat?

Kan jy waag

om die almagtige Regter

te veroordeel?

18Want Hy sê aan konings:

‘Julle is boos!’

en aan vername mense:

‘Julle is onregverdig.’

19Dit maak nie vir Hom saak

hoe belangrik jy is nie.

Hy kies ook nie tussen ryk

en arm nie.

Hy het hulle almal gemaak.

20Hulle sterf in ’n oomblik

teen middernag.

Die sterkstes word verwyder

sonder dat iemand

iets daaraan kan doen.

21“Hy kyk na hoe mense leef;

Hy sien alles wat hulle doen.

22Die kwaaddoener

kan in geen donker plek,

hoe donker ook al,

vir Hom wegkruip nie.

23Dit is nie vir ’n mens

om te besluit

wanneer hy

in God se oordeel kom nie.

24Hy vernietig sterk mense

sonder om iemand te vra

en stel ander aan in hulle plek.

25Hy kyk wat hulle doen.

In die nag keer Hy hulle om

en vernietig hulle.

26Hy straf hulle

vir hulle slegte dade

waar almal dit kan sien.

27Hulle het mos opgehou

om Hom te volg.

Hulle het hulle nie

aan Hom gesteur nie.

28Deur hulle toedoen

moes die armes

na Hom roep om hulp.

En God het dit gehoor.

Ja, Hy hoor altyd

die noodroep van mense.

29Wanneer Hy stilbly,

wie kan Hom kritiseer?

As Hy Hom verberg,

wie kan Hom sien?

Hy besluit oor volke en mense.

30Hy sorg dat ’n goddelose

nie oor mense regeer

en hulle in ’n valstrik lei nie.

31“Hoekom sê mense

nie vir God:

‘Ek het gesondig,

maar ek sal nie weer sondig nie’?

32Of: ‘Ek weet nie wat ek

verkeerd gedoen het nie.

Sê vir my sodat ek daarmee

kan ophou.’

33Moet God optree

volgens jou eise

omdat jy weier

om jou te bekeer?

Jý moet kies, nie ek nie.

Deel jou wysheid met ons!

34“Mense met begrip verklaar,

wyse mense wat my hoor,

sê vir my:

35‘Job praat sonder kennis.

Sy woorde is sonder insig.’

36Job, jy verdien

die swaarste straf

vir jou bose praatjies.

37Want nou het jy

by al jou ander sondes

ook opstand en godslastering

daarby gevoeg.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help