JESAJA 14 - Nuwe Lewende Vertaling

Babilon se koning gespot

1Die Here sal genade bewys aan die kinders van Jakob. Israel sal steeds sy volk wees. Hy sal hulle terugbring en weer laat bly in hulle eie land. Vreemde mense van baie verskillende nasies sal kom en deel word van die volk Israel.

2Die volke van die wêreld sal die Here se volk help om terug te kom, en die mense wat in hulle land kom woon, sal hulle dien. Dié wat Israel gevang het, sal gevang word en Israel sal oor sy vyande regeer.

3Op daardie wonderlike dag as die Here sy volk laat rus van lyding, verwarring en wrede slawerny,

4sal jy die koning van Babel spot.

Jy sal sê:

“Die magtige is vernietig.

Ja, sy astrantheid

het opgehou.

5Want die Here het

jou bose mag verpletter

en jou regering laat val.

6Jy het mense vervolg

en hulle aanhou slaan

sonder om op te hou.

In jou woede

het jy nasies onderwerp

met genadelose aggressie.

7Nou is die hele aarde rustig en stil.

Die mense kan weer sing.

8Selfs die bome van die bos,

die sipresse en seders

van Libanonberg,

sing hierdie vreugdevolle lied:

‘Jou mag is gebreek!

Niemand gaan weer kom

en ons afkap nie!’

9“In die doderyk

is daar opwinding

oor jou aankoms.

Die dooies, ook wêreldleiers

en magtige heersers

staan op om jou te verwelkom.

10Hulle roep almal

met een stem uit:

‘Nou is jy net so swak soos ons.

Jy het net soos ons geword!

11Jou mag en krag het verdwyn.

Dis saam met jou begrawe.

Die vrolike musiek in jou paleis

het opgehou.

Die bed onder jou is maaiers,

jy maak jou toe met wurms.’

12“Hoe het jy

uit die hemel geval,

blink ster, seun van die môre!

Jy is op die aarde neergegooi,

jy wat die nasies van die wêreld

verpletter het.

13Jy het mos vir jouself gesê:

‘Ek sal na die hemel toe opklim

en my troon bo God se sterre

neersit.

Ek sal regeer

op die godeberg

ver in die noorde.

14Ek sal opklim tot in die

hoogste hemele.

Soos die Allerhoogste

sal ek word.’

15Maar in plaas daarvan

sal jy in die doderyk beland,

in sy diepste deel.

16Almal daar sal jou aangaap

en vra:

‘Kan dit die man wees

wat die aarde met sy koninkryke

geskud het?

17Is dit die man

wat die wêreld

in ’n woestyn

verander het?

Is dit die koning

wat die wêreld

se grootste stede platgevee het

en geen genade

vir sy gevangenes

gehad het nie?’

18“Al die konings van die nasies

is met eer begrawe,

elkeen in sy eie graf.

19Maar jou lyk

word in die graf gegooi

soos ’n boomtak

wat klaar verrot is.

Jy lê in ’n massagraf

saam met die lyke

van dié wat in die oorlog dood is.

Soos ’n lyk wat vertrap word,

20sal jy nie ’n behoorlike begrafnis

kry nie.

Want jy het jou eie volk verwoes

en jou eie mense geslag.

Mag jou seun jou nie

as koning opvolg nie!

21Maak hierdie booswig

se kinders dood

sodat hulle nie opstaan

en die land beset

of die stede van die wêreld

herbou nie!”

22So sê die Here,

die Almagtige:

“Ek self het teen hom

opgestaan!

Ek sal sy kinders

en kleinkinders doodmaak,

sodat hulle nooit

op Babilon se troon sit nie.

23Ek maak Babilon verlate,

’n land vir ystervarke,

vol moerasse en vleie.

Met ’n besem van vernietiging

vee Ek die land uit.

Ek, die Here, die Almagtige,

het so gesê!”

’n Boodskap oor Assirië

24Die Here, die Almagtige,

het gesweer:

“Dit sal gebeur

soos Ek dit beplan het,

volgens my doel.

25Ek sal die Assiriërs vertrap

wanneer hulle in my land is.

Ek sal hulle op my berge

verpletter.

My volk sal nie langer

hulle slawe wees nie.

26“Ek het ’n plan

vir die hele wêreld,

want my mag geld

oor alle nasies.

27Die Here, die Almagtige,

het besluit,

en wie sal sy planne

kan verander?

Wanneer sy hand beweeg,

wie kan dit terugbring?”

’n Boodskap oor die Filistyne

28Hierdie boodskap het ek gekry in die jaar wat koning Agas dood is:

29Julle Filistyne,

moenie bly word

omdat die koning

wat julle aangeval het,

dood is nie.

Want al is die sweep stukkend,

sal sy seun erger wees

as wat sy pa ooit was.

Uit daardie slang

sal ’n giftige slang kom,

’n vlieënde draak

wat julle sal verbrand.

30Ek sal die armes

op my weiveld laat wei.

Die mense met nood

sal veilig gaan lê.

Maar julle,

julle sal in ’n hongersnood

uitgewis word.

Die bietjie wat oorbly,

sal Ek vernietig.

31Huil, julle Filistynse stede,

want julle is verdoem!

Smelt inmekaar van vrees,

want julle gaan vernietig word!

’n Magtige leër

kom uit die noorde.

Nie een soldaat deins terug

vir die geveg nie.

32Wat moet ons die boodskappers

van die vyand antwoord?

Sê vir hulle

die Here het Jerusalem gebou,

en Hy sal die armes onder sy volk

daar beskerm.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help