2 KRONIEKE 10 - Nuwe Lewende Vertaling

Die noordelike stamme kom in opstand

1Rehabeam het na Sigem toe gegaan waar die hele Israel bymekaargekom het om hom tot koning te kroon.

2Toe Jerobeam, seun van Nebat, van Salomo se dood hoor, het hy uit Egipte teruggekeer. Hy het daarheen gevlug omdat hy bang was vir koning Salomo.

3Hulle het Jerobeam laat kom en hy en die leiers van Israel het saam na Rehabeam gegaan en gesê:

4“U pa het ons ’n swaar las laat dra. Verminder tog die arbeidslas wat u pa op ons gelê het. Dan sal ons u getroue onderdane bly.”

5Rehabeam het geantwoord: “Kom oor drie dae terug na my toe.” Die volk het toe huis toe gegaan.

6Daarna het koning Rehabeam na die ouer manne, raadgewers van sy pa Salomo, gegaan. “Wat is julle raad?” vra hy. “Hoe moet ek hierdie mense antwoord?”

7Hulle het vir hom gesê: “As u vandag na die volk luister en hulle tevrede stel met ’n gunstige antwoord, sal hulle altyd u onderdane bly.”

8Maar Rehabeam het die raad van die ouer mense verwerp en vir die jong mans wat saam met hom grootgeword het en nou in sy diens was, gevra:

9“Wat dink julle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die laste wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”

10Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, het geantwoord: “Dit is wat u vir die mense wat met u gepraat het om hulle las te verlig, moet sê:

‘My pinkie is dikker

as my pa se middellyf.

11My pa het ’n swaar las

op julle gelê,

maar ek gaan die las

nog swaarder maak.

My pa het julle

met swepe geslaan,

maar ek sal

skerpioene gebruik!’”

12Soos die koning gevra het, het die hele volk en Jerobeam drie dae later teruggekom om te hoor wat Rehabeam se besluit was.

13Maar Rehabeam het hardvogtig met hulle gepraat, want hy het die raad van die ouer raadsmanne verwerp

14en die raad van die jong mans aanvaar. Hy het vir die mense gesê:

“My pa het ’n swaar las

op julle gelê,

maar ek gaan die las

nog swaarder maak!

My pa het julle

met swepe geslaan,

maar ek sal

skerpioene gebruik!”

15Die koning het nie geluister na die mense se eise nie. Hierdie verandering was die wil van God, want dit was ’n vervulling van die Here se profesie aan Jerobeam, seun van Nebat, deur die profeet Agija van Silo.

16Toe die hele Israel besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle vir hom geskree:

“Weg met Dawid

en sy koningshuis!

In die seun van Isai

het ons geen aandeel nie!

Gaan terug na julle wonings toe,

Israel!

Sorg nou vir julleself,

huis van Dawid!”

Die hele Israel het toe teruggegaan na hulle huise toe.

17Maar Rehabeam was koning oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.

18Koning Rehabeam stuur toe vir Hadoram, wat in bevel van die dwangarbeiders was, om orde te bring. Maar die Israeliete het hom gestenig. Koning Rehabeam kon net betyds in sy strydwa kom en Jerusalem toe vlug.

19Tot vandag toe nog weier die noordelike stamme van Israel om deur ’n afstammeling van Dawid regeer te word.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help