PSALMS 38 - Nuwe Lewende Vertaling

My gesondheid is geknak

1’n Dawidspsalm. ’n Herinnering.

2 Here, moenie my

in toorn straf

en my in u woede kasty nie!

3U pyle het my getref,

u hand lê swaar op my.

4As gevolg van u toorn

is my hele liggaam beseer;

as gevolg van my sonde

is elke been gebreek.

5My oortredings

het my oorweldig

soos ’n las

wat vir my te swaar is.

6My wonde sweer en stink

weens my eie dwaasheid.

7Ek is krom en heeltemal geboë.

Ek loop die hele dag en treur.

8My liggaam brand van koors;

daar is geen deel wat gesond is nie.

9Ek is uitgeput

en heeltemal platgeslaan.

Ek kreun met ’n versugting

uit ’n gebroke hart.

10U weet wat ek begeer, Here.

U hoor elke versugting van my.

11My hart klop onstuimig,

my krag begeef my.

Daarby kan ek ook

nie meer sien nie.

12My familie en vriende bly weg

en is bang vir my siekte.

Selfs my bure

bly op ’n afstand.

13Hulle wat my lewe soek,

stel vir my ’n lokval;

hulle wat my ondergang soek,

maak planne om my te vernietig.

Hulle dink die hele dag

aan verraderlike planne.

14Maar ek hou my doof

vir hulle dreigemente.

Voor hulle bly ek stil

soos iemand wat stom is.

15Ek is soos iemand wat doof is

en wat niks het

om te sê nie.

16Maar ek hoop op U, Here.

U sal antwoord, Here my God.

17Ek vra U:

“Moenie dat hulle bly word

oor my leed,

of hulle oor my verhef

as ek struikel nie.”

18Ek is op die punt

van ineenstorting,

ek beleef voortdurende pyn.

19Maar ek bely my sondes;

ek is baie jammer

oor wat ek gedoen het.

20My vyande is baie en magtig;

hulle haat my sonder rede,

hulle wat so baie is.

21Hulle vergeld my kwaad vir goed

en staan my teen

omdat ek najaag wat reg is.

22Moet my tog nie verlaat nie,

Here my God,

moenie ver van my af bly nie.

23Kom tog gou om my te help,

Here, my redder.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help