1 KRONIEKE 14 - Nuwe Lewende Vertaling

Dawid se paleis en familie

1Hiram, koning van Tirus, het boodskappers na Dawid toe gestuur en ook sederhout, messelaars en skrynwerkers om vir hom ’n paleis te bou.

2Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel aangestel het en sy koninkryk groot gemaak het ter wille van sy volk Israel.

3Dawid het met meer vroue in Jerusalem getrou, en hy het baie seuns en dogters gehad.

4Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo,

5Jibgar, Elisua, Elpelet,

6Noga, Nefeg, Jafia,

7Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid verslaan die Filistyne

8Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor die hele Israel gesalf is, het hulle al hulle magte gemobiliseer om Dawid te vang. Dawid het daarvan gehoor. Hy en sy manne het teen hulle uitgetrek.

9Die Filistyne het aangekom in die Refaimdal en dit geplunder.

10Dawid het God gevra: “Moet ek uitgaan en teen die Filistyne gaan veg? Sal U hulle aan my oorgee?”

Die Here het geantwoord: “Ja, gaan voort! Ek gee hulle aan jou oor.”

11Dawid en sy soldate het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. “God het dit gedoen!” het Dawid uitgeroep. “Hy het my gebruik om soos ’n watervloed deur my vyande te bars.” Daarom is daardie plek Baäl-Perasim genoem, wat “die Here wat deurbars” beteken.

12Die Filistyne het hul afgode daar gelos. Dawid het beveel dat dit met vuur verbrand moes word.

13Maar na ’n ruk het die Filistyne teruggekom en die dal weer geplunder.

14Dawid het weereens vir God gevra wat hy moet doen.

“Moenie hulle van voor af aanval nie,” het God geantwoord. “In plaas daarvan, trek agter hulle om en val hulle dan naby die balsembosse aan.

15As jy die geluid hoor soos van voete wat marsjeer in die toppe van die balsembosse, val aan! Dit is vir jou die teken dat God voor jou uit gaan om die Filistyne plat te loop.”

16Dawid het gedoen wat God hom beveel het. Hy het die Filistynse leër verslaan al die pad van Gibeon af tot by Geser.

17Dawid het wêreldwyd beroemd geword. Die Here het gesorg dat al die nasies bang was vir Dawid.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help