PSALMS 89 - Nuwe Lewende Vertaling

Wie is soos die Here

?

1’n Gedig van Etan die Esragiet.

2Ek wil altyd sing

van die goedheid

van die Here.

Ek wil, geslag na geslag,

sy getrouheid bekendmaak.

3Ek het gesê:

“U troue liefde

sal vir altyd duur.

U getrouheid

is so standvastig

soos die hemel.”

4U het gesê:

“Ek het ’n verbond gesluit

met my uitverkorene.

Ek het ’n eed afgelê

vir Dawid, my dienaar:

5‘Ek sal jou nageslag

vir altyd as konings vestig,

en jou troon bou

van geslag tot geslag.’”

Sela

6 Here, die hemel

prys u wondermag;

die hemelse wesens

prys u trou.

7Want wie in die hemel

kan met die Here

vergelyk word?

Wie onder die hemelse wesens

is soos die Here?

8In die hemelse vergadering

is daar groot ontsag vir God.

Hy is meer ontsagwekkend

as hulle wat Hom omring.

9 Here, God die Almagtige,

wie is magtig soos U, Here?

U is omring

deur u getrouheid.

10U heers

oor die bruisende oseane.

As die golwe styg,

laat U dit bedaar.

11U het vir Rahab vernietig,

met u sterke arm

u vyande verdryf.

12Aan U behoort die hemel,

die aarde is u besitting,

die wêreld en alles daarin –

dit alles het U gemaak.

13U het noord en suid gemaak,

Tabor en Hermon

prys u Naam.

14U arm is toegerus met mag,

u hand is sterk,

u regterhand is omhoog!

15Geregtigheid en reg

is die fondament van u troon.

Onfeilbare trou en waarheid

is tot u diens.

16Geseënd is hulle

wat U met vreugde dien,

wat lewe in die lig

van u teenwoordigheid,

Here.

17Hulle juig die hele dag

oor u Naam,

is verheug oor u regverdigheid.

18U is hulle kragtige roem.

Deur u goedheid

is ons sterk.

19Die Here is ons beskermer,

die Heilige van Israel

is ons koning.

20Voorheen het U

deur ’n visioen

met hulle wat aan U getrou is,

gepraat en gesê:

“Ek het hulp verleen

aan ’n krygsman.

Uit die gewone mense

het Ek die uitverkore een

verhef.

21Ek het my dienskneg Dawid

gevind.

Met heilige olie

het Ek hom gesalf.

22Met my hand

sal Ek hom ondersteun,

met my arm

sal Ek hom sterk maak.

23Vyande

sal hom nie onderwerp nie,

goddeloses sal hom

nie verdruk nie.

24Ek sal sy vyande

voor hom verpletter

en sy haters verslaan.

25My trou en liefde

sal met hom wees,

en deur my Naam sal hy oorwin.

26Ek sal sy mag uitbrei

tot by die see,

en tot by die riviere.

27Hy sal vir My sê:

‘U is my Vader, my God,

die rots van my redding.’

28Ek sal hom

my eersgeborene maak,

die magtigste koning op aarde.

29Ek sal vir altyd

aan hom my trou betoon;

my verbond met hom

vas laat staan.

30Ek sal ’n opvolger

vir altyd bepaal;

sy troon sal wees sonder einde,

so lank as wat die hemel bestaan.

31Maar as sy seuns

my gebooie nalaat

en nie in my weë wandel nie,

32as hulle nie my bepalings navolg,

nie my bevele gehoorsaam nie,

33dan sal Ek hulle eiesinnigheid straf,

hulle oortredings swaar bestraf.

34Maar my liefde vir hom

sal nooit ophou nie,

en my trou aan hom

sal Ek nie wegneem nie.

35Ek sal my verbond

nie verbreek nie,

en wat Ek beloof het,

nie verander nie.

36Ek het by my heiligheid

’n eed afgelê,

en my belofte aan Dawid

sal Ek nie verbreek nie.

37Sy nakomelinge

sal altyd daar wees,

en sy troon sal blywend wees

soos die son.

38Soos die maan

is dit daar vir altyd,

’n getroue getuie

in die lug!”

Sela

39Maar U het hom verwerp

en verstoot.

U was kwaad vir u gesalfde.

40U het u verbond met hom

laat vaar,

U het sy kroon

op die grond vertrap.

41U het al sy stadsmure

afgebreek

en sy vestings

in puinhope verander.

42Elkeen wat verbykom,

beroof hom,

terwyl sy bure hom bespot.

43U het sy vyande laat triomfeer,

al sy teenstanders laat jubel.

44U het sy swaard nutteloos gemaak,

hom nie bygestaan

in die geveg nie.

45U het sy grootsheid beëindig

en sy troon

op die grond gegooi.

46U het hom oud

voor sy tyd gemaak

en hom met vernedering oordek.

Sela

47Hoe lank nog, Here?

Sal U Uself vir altyd verberg,

en u toorn soos vuur laat brand?

48Dink tog hoe verganklik

is die lewe.

Is die skepping van die mens

dan ’n nuttelose daad?

49Watter mens kan lewe

sonder om die dood te sien?

Wie kan homself red

uit die mag van die doderyk?

Sela

50Here, waar is u liefde van vroeër

wat U in u trou

met ’n eed

aan Dawid beloof het?

51Dink tog, Here,

aan die vernedering

van u dienaars,

hoe ek in my hart

die beledigings

van baie volke dra.

52Hulle wat spot,

is u vyande, Here,

hulle bespot elke tree

van u gesalfde.

53Lof aan die Here vir altyd!

Amen, ja, amen!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help