PSALMS 139 - Nuwe Lewende Vertaling

U ken my deur en deur

1Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Psalm.

Here, U deursoek my

en ken my.

2U weet of ek sit

en of ek opstaan,

U ken my gedagtes van ver af.

3Of ek op pad is,

en of ek gaan lê,

elke oomblik

weet U waar ek is.

4Selfs voordat ek praat, Here,

weet U al presies wat ek gaan sê.

5U sluit my in van voor

en van agter.

U hand van seën is op my.

6Dié kennis

laat my in verwondering,

dit is vir my te hoog

om te begryp!

7Waarheen sou ek kon gaan

om u Gees te ontwyk?

Of waarheen sou ek kon uitwyk

om u teenwoordigheid

te ontvlug?

8Gaan ek op na die hemel toe,

is U daar;

gaan lê ek in die doderyk,

dan is U ook daar!

9Vlieg ek met die daeraad

na die ooste,

of gaan woon ek

in die verre weste,

10selfs daar sal u hand my lei,

en u regterhand my ondersteun.

11Sou ek sê:

“Mag duisternis my oorweldig

en die lig

nag word rondom my,”

12dan is die nag vir U

nie donker nie,

maar is so helder soos dag,

want duisternis

is vir U soos lig.

13U self het my diepste wese

gemaak,

my in die moederskoot gevorm.

14Ek loof U omdat U my

so besonder wonderlik

gemaak het.

U werke is wonderbaar,

ek weet dit alte goed!

15My bene was vir U sigbaar

toe ek stilletjies gevorm is

in die dieptes

van die moederskoot.

16U het my gesien

voor ek gebore is.

In u boek is alles opgeteken;

elke dag is bepaal

voordat een van hulle daar was.

17Kosbaar is u gedagtes vir my,

o God!

Hoe onmeetlik is die totaal!

18As ek dit sou moes tel,

sou hulle meer wees

as sandkorrels!

Wanneer ek daarmee klaar is,

sal ek nog steeds by U wees.

19As U net die goddeloses

sal uitroei, o God!

Gaan weg van my,

julle moordenaars!

20Hulle smee bose planne

teen U,

u vyande misbruik u Naam.

21Moet ek hulle nie haat

wat vir U haat nie, Here?

Moet ek nie ’n afkeer hê

van dié wat teen U

in opstand kom nie?

22Ja, ek haat hulle

met ’n volkome haat,

want u vyande

is my vyande.

23Deursoek my, o God,

en ken my hart;

toets my en ken my onrustige gemoed.

24Kyk of daar enige sondige neiging

by my is,

en lei my op die ewige pad.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help