JOB 24 - Nuwe Lewende Vertaling

1“Waarom het die Almagtige

nie ’n dag van afrekening

vir die kwaaddoener nie?

Waarom wag die regverdige

tevergeefs op Hom?

2Bose mense steel grond

deur grenslyne te verskuif.

Hulle steel skape

en laat hulle wei op hulle eie weiveld.

3Hulle vat selfs donkies

van die weeskind.

Hulle vat die weduwee se bees

as borg.

4Hulle druk die armes

uit die pad.

Die behoeftiges in die land

moet vir hulle wegkruip.

5Die armes

moet soos wildedonkies

in die woestyn

sukkel om liggaam en siel

aan mekaar te hou.

Hulle soek kos in die woestyn

vir hulle en hulle kinders.

6Hulle versamel veevoer

op ’n ander se landerye

en oes oorskiettrossies

in die wingerde

van die kwaaddoener.

7Snags lê hulle sonder klere

in die koue,

sonder iets om hulle toe te maak.

8Hulle is deurweek deur reën uit die berge

en bondel almal saam

teen die rotse vir skuiling.

9Weeskinders word weggeruk

van die bors

waaraan hulle drink.

Die baba van die arme

word as borg vir skuld geneem.

10Armes loop kaal,

sonder klere.

Hulle dra kos aan vir ander,

terwyl hulle self honger ly.

11Hulle pars olyfolie,

sonder om self

daarvan te proe,

hulle trap die wynpers,

terwyl hulle self dors is.

12“Die gekerm van sterwendes

klink op uit die stad,

en die gewondes roep om hulp,

maar God steur Hom nie

aan die skreiende onreg nie.

13“Kwaaddoeners kom in opstand

teen die lig.

Hulle wil niks te doen hê

met wat in die lig

gebeur nie.

Hulle loop nie op sy pad nie.

14Moordenaars staan op

voor dagbreek

om die arme en behoeftige

dood te maak.

In die nag is hy ’n dief.

15Die egbreker wag

tot dit skemer is,

want hy sê:

‘Niemand sal my nou sien nie.’

Hy dra ’n masker

sodat niemand hom herken nie.

16In die nag breek hulle in

by huise;

in die dag slaap hulle.

Hulle wil niks weet

van die lig nie.

17Vir hulle is die donker

soos die oggend.

Hulle is bondgenote

met die verskrikking

van die duisternis.

18“Maar hulle sal van die aarde verdwyn,

so vinnig soos skuim

wat deur ’n rivier

weggevoer word.

Alles wat hulle besit,

is vervloek

sodat niemand meer

in hulle wingerde kom nie.

19Soos droogte en hitte

sneeu laat smelt,

so word sondaars

deur die dood verteer.

20Selfs hulle ma’s vergeet van hulle.

Hulle is kos vir die wurms.

Niemand wil hulle onthou nie.

Bose mense breek in stukke

soos ’n boom in ’n storm.

21Hulle het die kinderlose vrou uitgebuit.

Hulle weier

om weduwees te help.

22God sleep die sterkes weg

deur sy mag.

Al is hulle gevestig,

hulle het geen sekerheid

in die lewe nie.

23God laat hulle miskien veilig woon,

maar Hy hou hulle altyd goed dop.

24Al word hulle vir ’n tydjie

baie belangrik,

hulle sal almal vergaan.

Soos al die ander mense

word hulle bymekaargemaak en

soos koring afgesny.

25“Is dit nie so nie?

Wie kan my verkeerd bewys

en my woorde ignoreer?”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help