1As gevolg van julle verkeerde lewe en sondes was ook julle geestelik dood.
2Julle leefstyl destyds is bepaal deur hierdie bose wêreld, ja, deur die regeerder van die mag wat in die lug is. Dit is die gees wat nou nog werk in almal wat aan God ongehoorsaam is.
3Ons almal het vroeër so gelewe. Ons gedrag is bepaal deur ons sondige begeertes. Elke sondige wens wat in ons gedagtes opgekom het, het ons sommer net gedoen. Soos die ander mense was ons vanselfsprekend vir God se straf bestem.
4Maar God se ontferming is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefgehad het, was so groot
5dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is!
6Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.
7So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien.
8Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God.
9Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie,
10want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.
Julle is één in Christus11Dink daarom aan die tyd toe julle wat as nie-Jode gebore is, “onbesnedenes” genoem is deur dié wat “besnedenes” genoem word – al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.
12Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie. Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld.
13Maar nou het julle wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom. Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis.
14Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. Deur sy liggaam aan die kruis te gee het Hy die twee groepe één gemaak; ja, die muur van vyandskap het Hy afgebreek.
15Hy het ’n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte. Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te omskep.
16Ja, deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig. Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen.
17Hy het vrede kom verkondig vir hulle wat ver is, én vir hulle wat naby is.
18Dit is aan Hom te danke dat albei van ons deur een Gees toegang tot die Vader het.
Julle is die Here se tempel19Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huisgesin
20wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip
21op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is.
22Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.