SPREUKE 16 - Nuwe Lewende Vertaling

1Mense kan planne maak,

maar die finale besluit

kom van die Here af.

2Alles wat hy doen,

kan vir die mens reg lyk.

Die Here weet egter

waarom hy dit alles doen.

3Alles wat jy doen,

moet jy opdra aan die Here,

dan sal jou planne slaag.

4Die Here het alles gemaak

vir ’n bepaalde doel,

ook die goddelose

vir die dag van straf.

5Die Here verafsku

elke verwaande mens.

Maar wees verseker,

hulle sal nie ongestraf bly nie.

6Liefde en lojaliteit

bring versoening

vir oortredings.

Kwaad word vermy

wanneer daar respek is

vir die Here.

7As die Here gelukkig is

met die manier

waarop iemand lewe,

sal Hy selfs sy vyande

in vrede met hom laat lewe.

8Dis beter om arm te wees

en regverdig,

as om ryk en oneerlik te wees.

9’n Mens beplan sy koers,

maar die Here bepaal

sy bestemming.

10As die koning praat,

is dit met Goddelike gesag.

Sy uitsprake mag nooit

onregverdig wees nie.

11Die Here vereis eerlikheid

en billikheid in die handel.

Hy bepaal die maatstawwe daarvoor.

12Die koning verafsku misdade.

Sy regering berus

op regverdigheid.

13Die koning is tevrede

wanneer mense eerlik praat.

Hy stel dit op prys

as mense die waarheid praat.

14Die koning se woede

is ’n draer van die dood.

’n Wyse mens probeer

sy woede afkoel.

15As die koning glimlag,

is daar lewe.

Sy goedgesindheid is soos wolke

wat lentereëns bring.

16Om wysheid te bekom,

is beter as goud,

en insig is beter as silwer.

17Die regverdige se pad

stuur weg van die kwaad.

Iemand wat daardie pad volg,

beveilig sy lewe.

18Hoogmoed lei tot ondergang.

Hooghartigheid

kom net voor die val.

19Eerder nederig lewe

saam met armes

as om buit te deel

met hoogmoediges.

20Hy wat na onderrig luister,

sal voorspoed geniet.

Dit gaan goed met elkeen

wat op die Here vertrou.

21Iemand wat wys is,

word ’n verstandige genoem.

As hy welsprekend is,

kan hy ook ander leer.

22Vir iemand met insig

is dit die bron van sy lewe.

Om dwase tereg te wys

is dwaasheid.

23’n Mens wat wys is,

sê verstandige dinge.

Hy kan ander mense onderrig.

24Mooi woorde is soos heuning;

dit is goed vir die gees

en bevorderlik vir die lewe.

25Dit kan lyk

of ’n mens reg lewe.

Agterna gesien

is dit die pad na die dood.

26’n Werker se honger

motiveer hom om te werk,

sy behoefte aan kos dryf hom.

27’n Nikswerd mens

stook kwaad,

wat hy sê,

is soos ’n vernietigende vuur.

28Iemand wat leuens verkoop,

sit rusie aan die gang.

Iemand wat skinder,

bring verwydering

tussen vriende.

29Iemand wat geweld voorstaan,

mislei sy naaste

en lei hom op ’n verkeerde pad.

30Iemand wat met sy oog knik,

is besig

om slinkse planne uit te dink.

Hy pers sy lippe saam,

so vasberade is hy

oor sy boosheid.

31Grys hare

is soos ’n pragtige kroon,

’n mens kry dit by persone

wat reg lewe.

32Dis beter om geduldig te wees

as dapper.

Selfbeheersing is beter

as om ’n stad in te neem.

33Mense kan lootjies trek,

maar die Here sal bepaal

wat die uitkoms sal wees.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help