PSALMS 56 - Nuwe Lewende Vertaling

U het my trane opgeskryf

1Vir die koorleier: Op die wysie van “Die duif in die veraf bome”. Van Dawid. ’n Gedig, met verwysing na die gebeurtenis toe die Filistyne hom in Gat gevang het.

2Wees my genadig, o God.

Daar is mense

wat my agtervolg.

Die hele dag

val my vyande my aan.

3My aanvallers agtervolg my

sonder ophou,

en baie val my aan,

o Allerhoogste.

4Die dag wanneer ek bang word,

sal ek net op U vertrou.

5In God, wie se woord ek prys,

in God is my vertroue;

ek sal nie vrees nie.

Wat kan mense aan my doen?

6Die hele dag verdraai hulle

wat ek sê;

hulle bose gedagtes

is teen my gerig.

7Hulle span saam

en hou my dop,

en beloer my tree vir tree,

gretig om my dood te maak.

8In die lig van hulle sondes,

kan hulle enigsins ontsnap?

O God, bring hulle tot ’n val

in u toorn.

9U het my ellende raakgesien.

U het my trane opgevang.

U het dit opgeskryf

in u boek.

10Die dag dat ek na U roep om hulp,

val my vyande terug.

Dat God aan my kant is,

weet ek beslis.

11In God, wie se woord ek prys,

in die Here, wie se woord

ek prys,

12in God stel ek my vertroue.

Daarom sal ek

nie bang wees nie!

Wat kan ’n gewone mens

aan my doen?

13My geloftes aan U

sal ek nakom, o God,

aan U sal ek dankoffers bring.

14Want U het my

van die dood gered.

U het my voete

van struikeling bewaar

sodat ek saam met God kan loop

en kan lewe in sy lig.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help