HABAKUK 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Habakuk se gebed

1Hierdie is ’n gebed van Habakuk die profeet.

’n Lied.

2O Here, ek het gehoor

wat van U vertel word.

Ek is in verwondering

oor alles wat U gedoen het.

Doen in ons tyd ook hierdie dinge

wat U in die verlede gedoen het.

Moenie vergeet om genadig

te wees nie al is U baie kwaad.

3God, die Heilige,

beweeg oor die woestyne van Edom

en van die Paranberg af.

Sy groot heerlikheid

vul die hemelruim.

Die aarde is vol van sy lof!

4Helder ligstrale flits uit sy hand,

daar waar sy krag verskuil is.

5Pes gaan voor Hom uit,

dodelike plae volg in sy voetspore.

6As Hy stilstaan, skud die aarde.

Wanneer Hy kyk, bewe die nasies.

Hy laat oeroue berge verkrummel

en eeue oue heuwels platval.

7Ek sien die tente van Kusan bewe,

die benoudheid van dié in Midian.

8Was U kwaad vir die riviere, Here,

toe u woede teen strome ontvlam,

u toorn teen die see ontbrand het?

U het op perde gery

en op strydwaens van oorwinning!

9U beveel u magtige wapens

om gereed te wees.

Sela

Met riviere kloof U die aarde oop.

10Die berge sien wat gebeur en bewe,

onstuimige waters stroom verby.

Die diepwaters dreun,

met golwe wat opslaan

soos hande omhoog gelig.

11Die son en die maan

het begin verdof,

verduister deur blitsende pyle

en die glans van u blinkende spies.

12U stap oor die aarde

in verontwaardiging,

U vertrap die nasies in u woede.

13U gaan uit om u volk te verlos,

U red u gesalfdes.

U verpletter die leier

van kwaaddoeners,

van kop tot tone stroop U hom kaal.

14U deurboor die leier van die soldate

met sy eie spies.

Sy soldate storm uit soos ’n

warrelwind,

want hulle dink

Israel is ’n maklike prooi.

15U vertrap die see met u perde

sodat magtige waters opbruis.

16Toe ek al hierdie dinge hoor,

het ek gesidder.

My lippe het van vrees gebewe,

my liggaam het lam geword,

my bene het onder my ingegee.

Tog sal ek rustig wag vir die dag

wanneer rampspoed dié mense tref

wat besig is om ons aan te val.

17Selfs al sal die vyebome nie bot nie

en die wingerd sonder druiwe staan,

al het die olyfoes misluk,

en lewer die landerye niks op nie,

al vergaan die kleinvee in die veld

en is die beeskrale leeg;

18tog, ten spyte van alles,

sal ek my verbly in die Here!

Ek sal juig oor God

wat my verlos!

19Die oppermagtige Here

is my krag!

Hy maak my voete

soos dié van ’n ribbok;

op hoë plekke

laat Hy my veilig loop.

(Vir die musiekleier: Die psalm moet met snaarinstrumente begelei word.)

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help