HOSEA 14 - Nuwe Lewende Vertaling

1Die inwoners van Samaria moet die gevolge van hulle skuld dra, want hulle het teen hulle God in opstand gekom. Hulle sal deur die swaard doodgemaak word. Hulle klein kindertjies sal verpletter word, hulle verwagtende vroue sal oopgesny word.

Genesing vir dié wat berouvol is

2Keer terug na die Here jou God, o Israel, want jou sondes is jou ondergang.

3Bely jou sondes en keer terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sondes en aanvaar ons in genade sodat ons weer ’n lofoffer aan U kan bring.

4Assirië kan ons nie red nie, ook nie militêre optrede nie. Ons sal nooit weer die afgode wat ons gemaak het ‘ons god’ noem nie. Nee, by U alleen is daar deernis vir ’n weeskind.”

5Die Here sê: “Dan sal Ek julle genees van julle ontrouheid; my liefde sal geen perke ken nie, want my woede is weg vir altyd!

6Ek sal vir Israel wees soos verfrissende dou. Hy sal bloei soos ’n lelie. Hy sal diep in die aarde wortelskiet soos die seders van die Libanon.

7Sy takke sal uitsprei soos die sierlike olyfboom, so geurig soos die plante van die Libanon.

8My volk sal dan weer terugkeer na die veiligheid van hulle land. Hulle sal welig groei soos koring en uitspruit soos wingerde. Hulle sal so hoog aangeskrewe wees soos die wyn van die Libanon.

9“O Israel, bly weg van die afgode. Ek het jou verneder, maar sal jou nou weer versorg. Ek is soos ’n boom wat altyd groen is. Ek is die bron van jou vrugbaarheid.”

Slotwoord

10Laat hulle wat wys is hierdie woorde verstaan. Laat hulle wat verstandig is aandagtig luister. Die paaie van die Here is waar en reg. Regverdige mense loop daarop, maar sondaars struikel en val op die pad.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help