JOB 20 - Nuwe Lewende Vertaling

Sofar antwoord Job ’n tweede keer

1Sofar die Naämatiet

het Job geantwoord:

2“Ek kan nie anders nie,

ek moet antwoord,

want ek is baie ontsteld.

3Ek luister nou al lank

na jou beledigings!

Nou moet ek jou antwoord.

4“Jy moet besef dat dit nog altyd so

was:

Vandat die mens op aarde is,

5was die gejuig

van die kwaaddoener

van korte duur en die vreugde

van die goddelose

net tydelik.

6Al reik die trots van ’n goddelose

tot in die hemel

en al is sy kop in die wolke,

7tog vergaan hy vir altyd,

weggegooi

soos sy eie uitwerpsel.

Dié wat hom geken het,

sal vra: ‘Waar is hy?’

8Hy sal vervaag soos ’n droom.

Jy kan hom nêrens kry nie.

Hy verdwyn soos ’n visioen

in die nag.

9Die wat hom eens op ’n tyd

gesien het,

sal hom nooit weer sien nie.

Sy plek sal hom nie meer ken nie.

10Sy kinders bedel by die armes,

want hy sal self sy rykdom

teruggee.

11Hy is nog maar ’n jong man,

maar sy beendere

lê in die stof.

12“Hulle het dit geniet

om slegte dinge te doen.

Dit was vir hulle so lekker

soos soetigheid

op die tong.

13Hulle het dit geproe,

en draai dit om en om

in hulle mond.

14Maar die soetigheid

sal skielik suur word,

soos die gif van ’n slang

in hulle maag.

15Die rykdom

wat hy verorber het,

sal hy alles uitbraak.

God sal hom

dit nie laat behou nie.

16Hy drink die gif van slange.

’n Adder sal hom doodmaak.

17Hy sal nooit weer

die oorvloed

van olyfolie,

die riviere van melk en heuning

kan geniet nie.

18Sy harde werk

word nie beloon nie.

Sy rykdom bring hom

geen vreugde nie.

19Want hy het die armes verdruk

en hulle verwaarloos.

Hy vat vir hom huise

wat hy nie gebou het nie.

20“Daar is geen einde

aan sy gulsigheid nie.

Daar bly niks oor

van alles

wat hulle opgegaar het nie.

21Niks het oorgebly as hulle

klaar geëet het nie.

Daarom sal hulle voorspoed

nie voortduur nie.

22Te midde van oorvloed

tref moeilikheid hom,

en hy word deur rampe verwoes.

23Terwyl hy versadig is,

oorval God se oordeel hom.

God laat sy straf op hom neerdaal.

24Al probeer hy ontsnap van ’n

ysterwapen,

’n koperpyl sal hom deurboor.

25Terwyl hy die pyl trek

uit sy rug

en die glansende punt

uit sy gal,

word hy oorval

deur die verskrikking

van die dood.

26Sy skatte is verlore

in die duisternis.

’n Vuur wat nie deur mense

aangesteek is nie

verteer hom,

alles wat hy nagelaat het,

word verbrand.

27Die hemel ontbloot sy skuld,

en die aarde getuig teen hom.

28’n Vloed sal sy huis wegspoel.

God se woede reën op hom.

29Dit is die lot wat wag

vir die kwaaddoener.

Dit is die erfenis

deur God bepaal.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help