JESAJA 34 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap vir die nasies

1Kom hier en luister,

nasies van die aarde!

Laat die wêreld

en alles daarop hoor wat ek sê.

2Want die Here is kwaad

vir die nasies.

Sy woede

is teen al hulle soldate gerig.

Hy sal hulle heeltemal vernietig,

Hy sal sorg dat hulle

geslag word.

3Hulle dooies

sal nie begrawe word nie.

Die stank van die lyke

sal die hele land vol wees.

Die berge sal deurdrenk wees

van hulle bloed.

4Die hemelliggame sal wegsmelt.

Die hemel sal soos ’n boekrol

toegerol word.

Die sterre sal verdof en val

soos verlepte blare

van ’n wingerdstok,

of ’n vyeboom wat verdroog.

5Wanneer my hemelse swaard

die nasies se bloed laat vloei,

kyk dan mooi,

dan sal dit afkom op Edom,

die volk wat Ek heeltemal uitroei

wanneer Ek hom straf.

6Die swaard van die Here

is deurdrenk van bloed.

Dit is vol vet asof Hy lammers,

bokramme en skaapramme

geslag het om ’n offer te bring.

Ja, die Here bring ’n groot offer

in Bosra.

Hy rig ’n groot slagting aan

in Edom.

7Die sterkstes en die oues

en die jonges sal doodgaan.

Die land is deurdrenk van bloed.

Die grond is deurtrek van vet.

8Want dit is die dag

van die Here se wraak,

die jaar van vergelding

ter wille van Israel.

9Die riviere van Edom

sal gevul word met teer,

die grond oortrek met swael

en die land met pik oordek.

10Hierdie oordeel oor Edom

sal nooit eindig nie.

Die land sal verlate lê

van geslag tot geslag.

Niemand sal meer

daar deurtrek nie.

11Die land sal die blyplek wees

van woestynuile en kraaie.

Want God bring

verwarring oor Edom

en verwoes die land.

12Die land sal genoem word

die Land van Niks,

en sy leiers sal verdwyn.

13Dorings sal die paleise

oorgroei,

brandnetels en dissels

sy forte.

Die ruïnes sal ’n blyplek word

vir jakkalse

en volstruise.

14Wildehonde en hiënas

kry mekaar daar.

Wildsbokke roep na mekaar.

Die naggees sal daar bly

om ’n rusplek te vind.

15Die uil maak daar nes

en lê haar eiers.

Sy broei haar kleintjies uit

en beskerm hulle daar.

Ook die aasvoëls kom

om daar te paar.

16Kyk gerus

in die boek van die Here,

en lees

wat Hy gaan doen:

Nie een van die voëls

of diere sal ontbreek nie.

En nie een sal wees

sonder ’n maat nie.

Want die Here het dit belowe.

Sy Gees sal dit alles

waar laat word.

17Hy het self die land opgemeet

en verdeel.

Hy het dit bemaak

aan hierdie diere.

Hulle sal dit vir altyd besit,

van geslag tot geslag.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help